Thursday 28 March 2013

Met een stel klere deur die lewe

Volgende keer voor jy op 'n bedelaar skree om 'n werk te kry of maak of jy hulle raakry, ek weet daars van julle daar buite. Lees eers die artikel hier onder.

 Jeremia Tjibiyi (52) wat bedel sedert 1984 op die hoek van Oxford en East Worldwaylaan in Johannesburg

 Paul Reyneke bedel al die afgelope 10 jaar by 'n verkeersligte in Roodepoort.

Aaron Robertse (24) swerf die laaste 2 jaar die hele land vol terwyl hy sukkel om werk te kry.

Kobus Booysen (46) staan die afgelope 3 jaar by 'n Verkeerslig in Krugersdorp.


Storie deur Jinine Botha (Beeld Joernalis). Die storie het in Wes Beeld verskyn. 


Hy wil graag werk, maar hy is te skaam om met sy enigste stel klere by ’n onderhoud op te daag.
“Ek weet dit hou my tans terug om werk te soek, maar ek het net die klere aan my lyf en al my CV’s is al lankal uitgedeel,” het Kobus Booysen (46) gister gesê.
Booysen bedel die afgelope drie jaar by verkeersligte in Krugersdorp ná ’n sameloop van omstandighede hom werkloos gelaat het.
“Ek het by die polisie en op myne gewerk. Maar nadat ek en my vrou uitmekaar is en alles net agteruitgegaan.”
Toe die klein bakkery toemaak waar Booysen laaste gewerk het, het hy die Wes-Rand plat geloop op soek na werk.
“Mense sê net eenvoudig daar is nie werk nie of kom weer môre. Ná ’n ruk het jy niks meer oor nie. Ek het nou net een stel klere. My bestuurderslisensie verval vanjaar en ek het nie eers geld om dit te hernu nie.”
Hy sê hy maak sowat R30 ’n dag by die verkeerslig en is hy bly as hy R50 per dag maak. Hy het gelukkig ’n gereelde tuindienswerk by ’n “gawe man” en ’n kerk oor naweke gekry.
“Ek is bereid om te werk en weet ek sal eendag hier uitkom. Ek wil nie by verkeersligte staan en bedel nie, maar ek staan hier uit desperasie.”
Aaron Robertse (24) sê hy weier om by verkeersligte te bedel en maak eerder staat op “gunsies” van vreemdes om te oorleef.
Paul Reyneke (48) wat al vir tien jaar by verkeersligte staan en bedel sê hy het ná jare se soek na werk net tou opgegooi.
’n Studie verlede maand deur Solidariteit se Helpende Hand het getoon dat wit bedelaars gemiddeld R172 per dag kry.
Luidens die verslag het ’n kwart van 61 respondente gesê hulle bedel minder as ’n jaar lank, terwyl 12% gesê het hulle bedel al langer as 10 jaar. 78% van die bedelaars het gesê hulle wil werk, maar luidens die verslag wil hulle moontlik nie “minderwaardige werk” doen nie.
Daar is ook bevind dat swart bedelaars iets op straat probeer verkoop, maar wit bedelaars nie.
Daarby is wit bedelaars werk aangebied, maar hulle het dit geweier. In Beeld se informele ondersoek is daar gevind dat swart bedelaars in Johannesburg tussen R20 en R60 ’n dag kry en meen baie van hulle dit is beter om te bedel by ’n verkeerslig as om nié te werk nie.


http://www.wesbeeld.com/55729/news/article/%E2%80%98ek-staan-hier-uit-desperasie

No comments:

Post a Comment