Friday 14 March 2014

Irene van Niekerk met haar baba seuntjie Jayden




Irene van Niekerk saam haar baba seuntjie Jayden.


Storie deur Lourensa Eckard (Beeld)

Irene van Niekerk (16), ’n belowende jong atleet wat al talle medaljes op skool en provinsiale vlak gewen het, is nie spyt dat sy onlangs ’n ma geword het nie.
Irene, wat 1½ jaar oud was toe albei haar voete byna afgesit is nadat sy in ’n bad kookwater gebrand het, het ses weke gelede ’n babaseuntjie, Jayden, gehad.
“Ek gaan steeds ’n sukses van my lewe maak, want ek wil hê Jayden moet trots op sy mamma wees,” het Irene gesê.
Irene se ma, Irene sr., was aanvanklik baie kwaad toe sy uitvind haar enigste dogter is swanger.
“Die skool wou haar nie saam met my huis toe stuur daardie dag nie, want hulle was bang ek rand haar aan,” het Van Niekerk gesê.
Sy het baie daaroor gehuil, maar sy het besef sy sal haar dogter moet bystaan, het sy gesê.
Jayden is Van Niekerk se negende kleinkind.
“Klein Irene is ’n baie goeie ma, maar sy besef sy is nog ’n kind. Sy hou haar nie voorbarig nie en is steeds respekvol teenoor grootmense,” het Van Niekerk gesê.
Irene het vandeesweek ook weer begin oefen, voeg haar ma trots by.
“Ek sal dit rustig vat, maar ons moet haar weer begin train. Sy sal nog eendag by die Olympics hardloop.”
Irene het vroeër afrigting gekry by die Hoërskool Monument in Krugersdorp, maar sy word tans slegs deur haar ma afgerig.
Jayden sit in ’n dra-stoel langs sy ouma wanneer Irene afrigting kry.
Jayden se pa, ’n 20-jarige man, is deel van sy seun se lewe en dra geldelik by, het Irene gesê.
“Hy is nie eintlik ’n slegte ou nie en hy is nie bang om te werk nie.
“As Jayden doeke of medisyne nodig het, dan koop hy dit.”
Vir Irene is die lekkerste deel van ma-wees Jayden se badtyd.
Smiddae wanneer Irene van die skool af terugkom, moet sy eers vir Jayden borsvoed voordat sy kan gaan hardloop, het sy gesê.
“Hy is ’n baie soet baba en hy is groot en sterk,” het Irene gesê.
http://www.beeld.com/nuus/2014-03-12-jong-atleet-n-trotse-ma
Vorige post oor Irene van Niekerk:
http://nelius-rademan.blogspot.com/2013/04/irene-van-niekerk.html