Monday 6 May 2013

Die Bloemhof Bonanza


  Nico Pretroius op hulle boot Casper, de boot genoem so, omdat hy eens heeltemal spietwit was.


Pieter Lambrecht van die SAPS se duik eenheid skiet die flair vanaf die brug oor die dam om die kompetisie te begin.

Billy Brummer (10) van Meyerton wag rustig vir die vis om te begin byt. Hy het nog slegs 'n klein geelvissie gevang wat hy moes terugsit aangesien dit nie 'n teiken spesie is nie

Sello "Schucks" Khabola "(59) van Botshabelo, dis sy eerste keer by die Bonanza.

 Jan Gouws van Westonaria

Junior Tienie Gouws en sy pa Tienie Gouws van Carltonville

Johan Vermeulen en Magda van Vreden hulle is van Bultfontein. Johan het sy been verloor tydens n mynongeluk in 1987.

Geraldo Pelser word eersdaags 3 van Bultfontein

 JC Minnie (4) van Balfour

Stefaan Mofana, Abram Mokgabi en Gert Mangesa verkoop miswurms, erdwurms en platannas in Prince straat in Bloemhof, hulle se besigheid is goed tydens die Bonanza

Abram Mokgabi verkoop erdwurms en platannas in Prince straat in Bloemhof, hulle se besigheid is goed tydens die Bonanza.

Jacques Lewis (37) van Rustenburg en sy 7kg Karp wat sy persoonlike beste is nog.

Sudaline Pieters (34) van Pietermaritzburg met haar baber. Sy het 5 jaar gelede leer karp en baber vang by haar man Dawie. Sy moedig vroue aan om Hengel te probeer. "Ek en my man is beste vriende, ons doen alles saam, visvang bring ons nog nader aan mekaar, as mens bereid is om te leer is dit absoluut die moeite werd"

Leon Aspeeling van Lichtenburg (65) met sy baber. "Ek is nie hier om te wen nie, ek is hier vir ontspanning, daar is niks so lekker soos om te hengel  nie."




 Manne besig om voer plek te maak.








STORIE DEUR : Bertie Jacobs vir Rapport

‘Is julle manne hier vir die visvang?” 

Sy Chesterfield Filter is amper uitgebrand, sy kouse tot by sy knieë opgetrek. Bloemhof is ’n klein dorp en die mense wat dié tyd van die jaar met onbekende bakkies hier is, reis óf deur óf hulle is hier vir die visvang. 

Vir die karpe en die babers in die Bloemhof Bonanza, die grootste varswater-hengelkompetisie op die vasteland. 

Sowat 2 000 deelnemers verlede jaar, hier waar die Vet- en Vaalrivier mekaar ontmoet en laer trek onder die beskutting van kameeldorings, kareebome, wildeolywe en vaderlandswilgers. 

Op die grens van waar beskawing Kalahari word en waar, wanneer jy mooi luister, die láng-kórt-kórt-roep van ’n visarend gehoor kan word.

Dit is Vrydagoggend en ’n armada van bote met name soos Hookit, So What en Mc-ni-fish-ent se Envinrude 70’s en Suzuki 50’s vul die neusholtes met die kenmerkende reuk van gebrande tweeslagenjin-olie. Van dié skippers sal in die volgende paar uur tot 22 km ver op die reuse-Bloemhofdam gaan soek na die versteekte inhammetjies waar die grootstes onder die grotes skuil.

Dit terwyl die walhengelaars hulle op vaste grond ingrawe – nie nader as 5m van mekaar nie, bepaal die regulasies.

“Hy’t my hoek onder afgebyt, net hier!”

“Die bliksem. Hallo, ek’s Pieter. Hulle loop, pappie, hulle is besig.” 

’n Ent verder langs die Sandveld-oewer aan die Vrystaat-kant van die dam is onmin aan’t broei.

“Kyk, kyk waar gooi hy al weer! Pa, kyk,” roep JB Ackerman, ’n woelige tjokkertjie met ’n wit-en-groen kamoefleerhoed op. 

“Tata, jy moet kyk waar jy gooi, jy’s weer hier by my lyne!” maan sy oom, Jan Gouws van Westonaria. Tatoeëermerke, een ’n gruwelhanswors, die ander ’n naakte nimfie, tooi sy regterarm, ’n silwerketting is om sy nek gedrapeer en skuins duskant hom staan sy dubbelkajuit-Isuzu KB240 LE. 

“Het jy gesien hoe diep gooi jy? Ek is nie naby jou nie, my aim is goed, ek gooi straight,” antwoord die 59-jarige Sello Khabola van Botshabelo, wat saam met vier vriende hul Cara­vette 5-kampeerwa met ’n Toyota Corolla vol duike dam toe getrek het.

“Hulle noem my Schucks, maar ek is nie Leon Schuster nie.” Hy lag: “Ek het nie tande nie, maar ek is sexy.” Hy meen hy bewe so, want hy is “gebabelas”. 

Langs die water is dit soos Loftus se Oospaviljoen: daar is iets van alles. Papgooiers gesels tegniek met vis-vakmanne en kinders se verspotheid sorg vir groot genot. 

“Moenie in die water speel nie, kom daar uit!” skree ’n roesbruingebrande man op sy seun.

“Hiehiehie-hê,” skater die blondekop terug. “Ek het nou net in my broek gepiepie.”

In 1987 het ’n plofongeluk by die myn waar hy gewerk het Johan Vermeulen se regterbeen geëis. Vandag is dié boorling van Allanridge agter graskarpe aan. 

“Hulle is net hier voor in die grassies,” sê hy met sy wysvinger wat na net hier voor in die grassies wys. “Ek het dalk my been verloor, maar dit hou my nie terug nie. Ek spring valskerm en ek ry perd en ek vang vis.”

Hy roep Magda van Vreden nader, wat langs sy rolstoel kom staan. “Ons is nou al drie jaar saam. Vir haar kan ek nie verloor nie, dan is ek niks.”

Elke dam het sy eie lus en elke visserman glo in sy eie moetie. Van bloekomolie tot Jelly Tots en selfs Deep Heat, want soms het ’n vis ook seer. 

“Ons het al vreemde versoeke gehad, jong, jy sal nie glo wat die mense vra nie,” verduidelik Danie Swart, eienaar van Die Viskas in die dorp. “Viskoppe, gevriesde kuikens, duiwe, hoenderlewers... Iemand het al selfs ’n vonkprop kom soek.”

“Die meeste visse wat ek nog in my lewe gevang het, was met koffiepap,” vertel Chris Mong van Kempton Park. “Ek het dit nog nie vandag of gister probeer nie, maar ek gaan nou.”

Koffiepap: meng drie koppies koekmeel, twee koppies mieliemeel en vyf koppies water. Voeg by drie eetlepels koffie en drie eetlepels suiker. Brei tot lekker styf. 

Carletonville se Willie du Preez beweer dat hy al ’n baber met ’n stuk kougom gevang het en bieg in dieselfde asem dat hy nie glo in vang-en-laat-gaan nie. Basta met hierdie reël, reken hy. 

“My maat, ek gooi nie terug nie, ek mors nie. As ek ’n baber vang, slag ek hom vir kerrievis. Dit proe nes daai vis wat mens in die blikkies koop met daai watsenaam om. My broer se laaities maak chillibites daarmee, baberbiltong. Ek het een jaar baber by ’n munisipaliteitbyeenkoms gebraai en die ouens het gesê as jy nie die grein van seevis ken nie, sal jy nie die verskil weet nie.” 

Die manne het ’n ding vir die bodemsuier. 

“’n Baber gee die grootste geveg. Hy’s ’n moeilike kalant met ’n dun lyn. Daai man is sterk, jy moet mooi met hom speel, maar jírre dis lekker,” sê Leon Aspeling van Lichtenburg.

Visvang ’n sport vir damduikers? Watwou! Al wat 4x4 is, sleep bote die water uit, staan by hoogs toegeruste tente en staan in rye in Princestraat af waar Stefaan Mofana, Abram Mokgabi en Gert Mangesa met miswurms, erdwurms en platannas smous. 

Hulle is die gholfklub verbied, so hulle gaan grawe nou by die stasie vir aas rond om aan die besoekende hengelaars te verkoop. 

“Die mense koop nou meer by ons, dit is goed,” sê Stefaan terwyl Abram geld vir brood smeek, sy gebakte hande so wyd uitmekaar soos ’n visserman se spog. 

Jis, dís ’n vis!

Die algehele wenner van die Mitchell- Berkley Bloemhofdam Bonanza was Dawie Horn wat ’n baber van 22,98 kg en ’n karp van 6,88 kg uitgetrek het. Hy het in 2002 ook die toernooi gewen. Hy het R100 000 gewen. Giel van Heerden was tweede en Niekie Bohmer derde. 

Ander groot visse van die dag was Tim van Wyk se baber van 21,23 kg en Rassie Pieterse se karp van 9 kg.


http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Grotes-kom-nie-weg-nie-20130504

Thursday 2 May 2013

The Street Vendors

Maxwell Mahlangu; Mandla Tlot; Daniel Mitlou; Sipho Sitole; Philip Shabangu, all street vendors in Krugersdorp.

Sipho Sitole

Mandla Tlot

I did a story for Beeld with Lourensa Eckard (@Lourensaeckard)  on Street Vendors a while back in Krugersdorp. The story was about a new law that would force street vendors to obtain a license before they were going to be allowed to sell their goods next to the roads. To read the whole story go to : http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Smouswet-klop-apartheid-sn-20130424