Saturday 22 December 2012

Darem kan ons nog visvang


Die ekonomie druk nie net vir ons "die middelklas" nie, mense hou korter vakansie, eet nie so baie uit nie en koop kleiner geskenke om geld te bespaar. Alles goed en wel, maar wat van die mense wat minder het as ons? Hoe oorleef hulle in die huidige ekonmiese toestande, die antwoord is hulle doen nie.

Ek en Riata Nel (Beeld joernalis) het na 'n groep mense gaan kyk wat alles verloor het en langs die Vaalrivier bly en visvnag om aan die lewe te bly.

 Johan Koekermoer sit en wag vir 'n visie om te byt.


Johan Koekemoer met een van die visse wat hulle deur die nag gevang het.

Johan Koekemoer in sy hut wat hy self gebou het.


Derick Stroebel met 'n vis aan die lyn.

Derick Stroebel met sy hondtjie

 Derick Stroebel sit nog aas aan sy hoeke.



 Die hounet wat hulle self gemaak het uit n ou inkopiewaentjie.



Artikel deur Riata Nel wat in Beeld verskyn het

Talle werkloses op wie die wêreld sy rug gedraai het, sê hul enigste toevlug is die oewer van die Vaalrivier in Vereeniging.

Hulle het tente en skuilings ’n paar meter van die water opgerig en vang daagliks vis om aan die lewe te bly.

Vroegoggend is dit baie koud. Teen 06:30 bak die son warm en weerkaats die sonstrale in die water sodat jy jou oë skrefies moet trek om te kan sien. Oral staan visstokke met lyne in die water.

“Jy maak ’n paar rand deur vis te vang en dit te verkoop. Party dae kry jy bietjie swaar, maar ons het nie nodig om te loop en steel nie,” het ’n tentbewoner gister aan Beeld gesê.

Sy naam is Johan en hy is 43 jaar oud. Hy wil nie sy van gee nie, want hy is bang sy ma sien waar hy bly.

Hy is een van 15 mans wat op die oewer bly.

“Ek het my werk verloor en dit is die enigste plek waar niemand jou pla nie.”

Hy vang vis en verkoop dit. Wat hy nie verkoop nie, eet hy self.

Daar is nie toilette nie en hy sê “jy stap maar diep in die bos in”. Hulle kry vars water oorkant die pad.

Derick Stroebel (60) woon al drie jaar lank in sy tent langs die rivier.

“Ek het nie pensioen nie en kan nie ’n kamer bekostig nie,” het hy verduidelik.

Hy is oorspronklik van Vereeniging en het jare lank visgevang op die spesifieke plek waar sy tent nou staan. Hy oorleef ook deur die vis wat hy vang te verkoop.

Gister het hy agt visse gevang.

“Dit is nie gevaarlik om hier te bly nie. Die mense kom pla jou nie.”

Hy het nie kinders nie en sy familie bly in die Vrystaat.

“As jy vier klein visse verkoop, kry jy so R20. Genoeg vir twak en ’n brood,” het Johan Koekemoer (58) vertel.

Hy sê elke dag is dieselfde.

“Dis eenvoudig. Jy vang in die oggend ’n bietjie vis. As jy vis kry, verkoop jy dit. As jy nie vis kry nie, moet jy gaan kyk waar jy ’n stukkie kos kan kry. Dan gaan slaap jy en môreoggend is alles weer dieselfde.”

Nie een van die inwoners het vervoer nie en moet loop waar hulle wil wees.

Hulle het gesê daar is gerugte dat hulle goed op die oorkantste oewer steel.

“Ons kan nie eers tot op die oorkantste oewer kom nie, want nie een van ons kan so ver swem of het ’n boot nie,” het Johan gesê.


 http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Vaal-lewensaar-20121221







1 comment: