Monday 7 January 2013

"Dit was baie nice toe ek grootgeword het"


Ek en Louise Ferreira (Beeld joernalis) het gaan kyk hoe dit met die mense in, soos hulle dit noem, Fietas (Vrededorp) en Jan Bom (Jan Hofmeyer) gaan.


Frances Venter (20) help ’n buurvrou om haar voortuin skoon te maak in Gousblomstraat. Inwoners kla hul buurt het met die jare al hoe meer vervalle geword.


 Rachel Janneman is een van die bejaardes wat in Vrededorp / Jan Hofmeyer bly en op haar staat pensioen moet leef.

 Boet Rudolph (64) en by hom in Cathy Stevens en haar kleindogter Reniscka Viljoen (2)


 Boet Rudolph (64) bly dekades al in Jan Hofmeyr. “Eers het ons probleme gehad met inbrake. Toe kry ek vir my die groot hond en die klein hondjies, en nou is dit bietjie stiller.”

Paul Rudolph (regs voor) staan buite sy broer se huis in Gousblomstraat in Jan Hofmeyr, Johannesburg. Jannie van Niekerk leun teen die motor en Lukas van Niekerk staan agter die deur.


Petro Rich (23), Lourens de Lange (22) en Chrisjan Havenga (23) is drie van Jan Hofmeyr se jonger inwoners. “Dis oukei,” sê Lourens. “Jy kan nie meer alleen loop nie, hier’s dronk mense. Maar dis lekker om hier te bly.” Petro voeg by: “Dis nog nie so bad nie.”


 Kathrina Ralph se kleinkinders speel in haar voortuin. Voor staan Jana (3). Die gebied is nie meer veilig nie, sê Ralph. “Die polisie patrolleer darem nou gereeld, maar as jy hulle bel, is hulle baie stadig.”




Elizabeth Moroosiis een van die baie bejaardes wat in regeringsbehuising bly in Vrededorp en Jan Hofmeyer. Hulle ontvang slegs 'n karige pensioen van R1 200 per maand en baie maak staat op die Jan Hofmeyer-gemeenskapsprojek en die Rotari‘rklub vir kos. Daar is dikwels ook probleme met die toestand van hul blyplekke, kragonderbrekings en 'n gebrek aan vervoer. Hoewel die meeste kinders het, is die nie altyd in staat daartoe om vir hul ouers te sorg nie.

  Carol Faber
Gert Smuts


Storie deur Louise Ferreira (Beeld Joernalis)

‘Op die oomblik is daar nie ’n toekoms nie. 

Maar ek sê dankie in die oggend en ek sê dankie in die aand.”

Dít was die woorde van Alet Parsons (61) van Jan Hofmeyr drie dae nadat sy in haar huurkamer in munisipale behuising ingetrek het.

Die pensioentrekkers wat hier woon, sê die plek het die laaste paar jaar verander. Daar is oral misdaad en dwelms.

Die meeste van die huise is verwaarloos, met lae baksteenmure of doringdraad wat die erwe omhein. By elke huis waar Beeld aangeklop het, was daar minstens een hond.

Ella Rudolph (51) woon al langer as 40 jaar in Vrededorp.

“Dit was baie nice toe ek grootgeword het. Ons kan nie meer in die straat loop nie. Ek kan nie ná ses winkel toe gaan nie, want hulle wag vir jou op die hoek.
“Hulle het al drie fone van my geneem.”

Vol asblikke staan in Gousblomstraat en die reuk van verrotting hang swaar in die lug. 

Hierdie vullis moes al die vorige dag verwyder gewees het, sê Nico Hattingh, wat by die Jan Hofmeyr-gemeenskapsprojek betrokke is.

Dit gebeur dikwels dat dit nie verwyder word nie, voeg Rudolph by.

“Jy moet die asblik net so vuil inbring, anders steel hulle hom. Dit was altyd baie skoon hier.”

Sylvia Patrick (50) woon die afgelope 23 jaar in Fietas.

“Dit was altyd stil hier. Jy kon laataand in die strate loop en jou deure ooplos. Nou is hier meer dwelms en sjebiens.

“Ons leef nou ’n lewe van vrees.”

Osman Cassiem van die DA is die nuutverkose raadslid vir wyk 58, waaronder Vrededorp, Pageview, Fordsburg en Mayfair onder meer val.

Hy beoog om misdaad te probeer bekamp deur saam met die polisie te werk om patrollies meer sigbaar te maak.

Hy is bewus van die probleme met die vullisverwydering, sê hy.

“Ek probeer op hul rug sit om my wyk skoon te hou. Dié wyk is die afgelope 18 jaar afgeskeep.

“Die mense verdien beter dienslewering as wat hulle tans kry.”

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Dis-nou-anders-20121227

No comments:

Post a Comment