Wednesday 19 December 2012

Hillbrow Boxing Club

 George Khosi the owner of the Hillbrow Boxing Club
















Storie deur Lourensa Eckard wat in Beeld verskyn het op 17/12/12

Op ’n straathoek in Hillbrow is ’n bokskryt waar lede van die gemeenskap van 06:00 tot snags laat kan gaan leer boks.

George Khosi, ’n afgetrede bokser, het in 2002 ’n verlate vulstasie in Claimstraat in ’n boksklub omskep.

“Boks help mense om gedissiplineerd te wees en dit leer hulle om voortdurend bewus te wees van wat om hulle aangaan. 

“In ’n gebied soos Hillbrow is dit baie belangrik,” het Khosi gesê.

Die klub bestaan uit ’n kryt en ’n klein vertrek met slaansakke, ou gewigte en ander gimnasiumtoerusting wat oor die jare aan Khosi geskenk is.

“Enigiemand is welkom, selfs al is dit net om te kyk.”

Lilian Molala (28) is ’n professionele vrouebokser en het haar loopbaan op die ouderdom van 15 by Khosi se boksklub begin. 

“My oupa was ’n bokser, asook my pa. So ek boks om hulle trots te maak,” het Molala gesê.

Molala oefen elke dag, behalwe die dag voor ’n groot geveg.

“Ek oefen baie hard, want dit is al hoe ek geld maak.”

Khosi vra nie ’n lidmaatskap-tarief nie, maar vir diegene wat werk, vra hy ’n skenking.

“Al gee hulle net ’n stel ou tekkies wat ek aan een van die kinders kan gee.”

Hoewel Khosi die klub gestig het om mense te leer boks, is die belangrikste aspek van sy klub dat hy aan jong kinders ’n manier gee om van die strate af te bly.

“As kinders niks het om te doen nie, dan gaan hulle stout wees. Ek wil hulle van die strate af probeer hou en hulle iets lekker gee om te doen wat hulle leer om gedissiplineerd te wees en om hard te werk.”

Dumaluhle Mpofu (11) en sy jonger broer, Nkosi (8), is weeskinders en boks al ’n jaar by die Hillbrow-boksklub.

“Ek hou baie daarvan. Eendag wil ek ’n professionele bokser wees,” het Dumaluhle gesê.

Albei boeties se gunsteling-bokser is Mike Tyson.


http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Sy-boksklub-hou-jonges-van-strate-af-20121217

No comments:

Post a Comment