Wednesday 4 April 2012

Tanie Evita Bezuidenhout





Tanie Evita Bezuidenhout met haar aangenome baba Johannes van Limpopo, 
En ja die baba lyk nogals bekend of hoe?


Artikel deur Pauli van Wyk, artikel het op 3 April 2012 in Beeld verskyn.

Tannie Evita Bezuidenhout het ’n lid van die ANC geword – “om hulle op die regte pad te hou, natuurlik”.

Die bekende tannie het gister met fladderende wimpers in ’n treffende ontwerpersrok van groen, goud en swart die aankondiging gedoen en haar beringde, harige hand deur die lug gewaai. 

“Ek het hulle van die kantlyn af dopgehou en dis tyd dat ek betrokke raak en ons regering uit hul fantasie van liberation na die realiteit ruk.”

Die legendariese Suid-Afrikaner en selfaangestelde politieke kritikus het gister by die Johannesburgse staatsteater tong geklap en gesê: “Die ANC is mos ons demokratiese regering, vir die mense, uit die mense. Wat klaarblyklik nie van die mense hou nie.”

Tannie Evita verskyn van vandag af ook in “daai derderangse komediant, Pieter-Dirk Uys” se nuwe vertoning, Adapt or Fly. 

Dit verwys terug na 30 jaar gelede se vertoning Adapt or Dye , geïnspireer deur die Groot Krokodil, oudpres. PW Botha.

Sy sal ook haar aangenome seuntjie, baba Johannes van Polokwane, Limpopo, aan die gemeenskap bekendstel.

“Charlize Theron het onlangs ’n Afro-Amerikanertjie aangeneem. Mense sê dié een van my laat hulle aan iemand dink, maar ek is nie seker wié nie.”

Dié “baba” lyk op ’n druppel na mnr. Julius Malema, geskorste ANC-jeugleier.

Pieter-Dirk Uys het ook sy stuiwer in die armbeurs gegooi en gesê daar is besliste ooreenkomste in die politieke landskap van vandag en 30 jaar gelede. 
Volgens Uys wys die vertoning dat die politiek homself ná 30 jaar weer herhaal. “Dis nie die politiek van swart en wit nie, maar van ’n samelewing – daar is geheime, wette en die mense is kwaad en arm.”

Van 1975 tot 1982 is al sy Afrikaanse vertonings verbied, sê Uys. “Maar ek is nooit gearresteer nie.Wie kon hulle arresteer? Vir my of daai Evita?







No comments:

Post a Comment