Tuesday 10 April 2012

Elzabé Zietsman






Elzabé Zietsman saam met haar honde, Ntsu en Blues, in haar gastehuis in Auckland Park, Johannesburg.




ARTIKEL DEUR PAULI VAN WYK (BEELD) WAT IN BEELD VERSKYN HET.


Vir die eerste keer in tien jaar verskyn die verhoog- en kabaretdiva Elzabé Zietsman (51) in ’n musiekblyspel en die lewe was “moontlik nog nooit so mooi nie” – al hang die slepende eis teen kykNET soos ’n donker wolk oor haar toekoms.

Zietsman eis R250 000 van die Afrikaanse kanaal, die vervaardiger van die skinderprogram Tonge los en Loui Fish, Eagan Williamson en Gavin Prins, die drie aanbieders van die program, vir ’n program wat op 12 Februarie 2010 uitgesaai is.

“Al is dit ’n groot risiko om teen kykNET op te staan, is dit vir my ’n beginselsaak en ek gaan nie daarmee stop nie,” het sy gister in haar gastehuis in Auckland Park, Johannesburg, gesê.

Luidens die dagvaarding is op dié program gesê sy sou as surrogaatma vir haar suster opgetree het, maar die aanbod is van die hand gewys weens haar beweerde twyfelagtige leefstyl.

“Ek was destyds besig met al daai verskriklike toetse vir die nieroorplanting(skenking) aan my niggie, Retha Schoeman. 

Die insinuasie dat my leefstyl my ongeskik maak, het die proses van die oorplanting in die weegskaal geplaas. Hul navorsing was pateties en ’n doelbewuste keuse is gemaak om die storie meer sensasioneel te maak.”

Zietsman (toe 47) se susterskind het haar gevra om ’n surrogaatma te wees en nie haar suster nie, soos glo beweer is. 

Daarvoor het sy ses maande lank hormoonbehandeling ondergaan en bevrugte eierselletjies is wel ingeplant, daar was geen familietwis nie en sy is nie weggewys nie, het sy gesê.

“Dit het net nie gewerk nie. Ek het hulle (Tonge los) lank kans gegee om verskoning te vra. Uiteindelik het ek gedreig met regstappe en die verskoning was toe so dat dit eintlik ’n klap in die gesig was.”

Vandeesmaand verskyn sy saam met kunstenaars soos Steve Hofmeyr in Deon Opperman en Sean Else se jongste musiekblyspel Lied van my hart.

“Ek het tien jaar gelede in Vere, Deon se eerste musiekblyspel, verskyn. Dit is ook die laaste keer wat ek ’n ensemble met ander akteurs gedoen het. Ek síng my twee liedjies en dis lekker. 

Ek is nog nie reg om op te hou konsert hou en sing nie. Dit is wat my definieer.”

No comments:

Post a Comment