Wednesday 9 October 2013

Optog na Hoër Volkskool in Heidelberg









Storie deur Wolfram Zwecker (Beeld Joernalis)

Sowat 500 mense, hoofsaaklik skoolkinders van Ratanda buite Heidelberg, het gister ’n memorandum by die Volkskool Heidelberg afgelewer waarin hulle ’n einde aan beweerde rassisme by dié skool eis.
Die vreedsame optog spruit uit ’n voorval sowat twee maande gelede toe leerlinge onder mekaar baklei het.
Twaalf leerlinge is deur ’n tugkomitee verhoor en ’n dertiende deur die departement geskors. Die leerling het ander leerlinge tydens die bakleiery met bakstene aangeval.
Volgens Corrie Human, woordvoerder van die skool se beheerliggaam, is dié seun wel deur die departement geskors, maar ’n paar dae later teruggestuur na die skool.
’n Dag of twee daarna het hy met sy skoolbroek oor sy skouer en met net ’n onderbroek aan in ’n klaskamer ingestap.
Hy is weer aangekla, sê Human, maar voor die tugverhoor gehou is, het hy self besluit om die skool te verlaat.
In die memorandum wat gister aan Johan Bester, lid van die beheerliggaam by die skoolhek oorhandig is, word onder meer geëis dat geskorste leerling wat toe self geloop het, weer toegelaat moet word. Die tugstappe teen die ander leerlinge moet ook opgehef word.
Daar word ook geëis dat die onderwysdepartement die beheerliggaam ontbind en ’n nuwe een aanstel. Die skool moet ook weens beweerde rassisme ondersoek word, veral waar dit kom by skoolgelde. Baie wit leerlinge word vrygestel, maar min of geen swart leerlinge, wat op rassisme neerkom, lui die memorandum.
Die beheerliggaam gaan volgens Bester die memorandum bekyk en aan die departement voorlê voordat hulle terugvoering gee.

No comments:

Post a Comment