Wednesday 6 February 2013

Myn in voorgestelde erfenisgebied

Die Platmin myn



Die myn met die Pilanesberge in die agtergrond.



Olifant in die Park



Miskruier in die Park



Storie deur elise Tempelhoff wat in Beeld verskyn het


Die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing (FVO) het ’n strafregtelike klag by die polisie ingedien teen Platmin, ’n platinummyngroep, wat ’n reuse-oopgroefmyn op die voorstoep van die Pilanesberg-natuurreservaat bedryf.

Die myn lê in ’n voorgestelde erfenispark wat die Pilanesberg-natuurreservaat en die Madikwe-natuurreservaat met mekaar sou verbind en ’n migrasieroete van sowat 90 km lank en 1,5 km breed veral vir die groot vyf sou vestig. 

Mariette Liefferink, direkteur van die FVO, het gesê die Federasie het die klag teen Platmin aanhangig gemaak omdat die myn nie ’n waterlisensie het nie.

Volgens Charmane Russell, woordvoerder van Platmin, het die myn ’n “konsep-waterlisensie”. 

Liefferink het hierop gesê dit is “pure bog” dat daar so iets soos ’n konsep-waterlisensie is.

Russell het geweier om afskrifte van die “konsep-waterlisensie” of die omgewingstudies wat Platmin ingevolge die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) moes onderneem voordat hulle kon myn, aan Beeld te gee. Dít is albei openbare dokumente. 

Moremi Lesejane, bestuurder van parkuitbreidings by die Noordwes-toerisme-en-parkagentskap (NTPA), het gesê die myn en veral oor die hoeveelheid water wat Platmin in dié dorre streek gebruik. kwel hom.

Volgens Lesejane is die bedrywighede van die myn strydig met die NTPA se plan vir dié streek.

Dié owerheid se plan was om volhoubare werkgeleenthede deur eko-toerisme in dié gebied te vestig. 

Hy het gesê die NTPA is magteloos teen Platmin omdat die departement van mineraalbronne ’n mynreg aan hulle toegestaan het.

Russell het gesê die vestiging van die deurgang-korridor is ’n NTPA-projek en sy bestaan word glad nie geraak deur Platmin se “minimale” impak op die gebied nie. 

“Platmin is daartoe verbind om die NTPA by te staan om die erfenisdeurgang (korridor) te vestig.”

Dr. Shan Holmes, omgewingskundige, het gesê die gebied is baie sensitief en myne hoort nie hier nie. 

Die streek (die voorgestelde erfenispark) val in die Krokodil-Marico-opvangsgebied en ingevolge die Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) se opname oor varswatergebiede is dié gebied uniek en baie ryk aan biodiversiteit. 

Holmes het gesê dié streek verteenwoordig die oorgang van die Bosveld na die Kalahari.

’n Woordvoerder van die polisiekantoor naby Sun City waar die klag ingedien is, het gesê die saak sal beslis ondersoek en ’n taakspan moontlik hiervoor aangestel moet word. 

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Groep-verkla-oor-myn-by-reservaat-20130203














No comments:

Post a Comment