Friday 26 October 2012

Cianlinè kry amper haar glimlag terug.

Cianlinè die dag voor haar operasie

Cianlinè saam haar ma Monica




Storie deur Pauli van Wyk wat in Beeld verskyn het 

’n Vyfjarige meisietjie het gister in ’n operasie van 14 uur die eerste stap geneem om haar droom van ’n “mooi glimlag” te kan verwesenlik.

Cianliné was een jaar oud toe ’n groot, kis-soort TV met ’n skermgrootte van omtrent 73 cm op haar geval het, het Monica van der Westhuizen, haar ma, gister vertel.

“Ek het net ’n oomblik weggekyk, ’n sagte plofgeluid gehoor en toe lê my kind onder die TV.”

Toe sy haar kind in haar arms hou, was Cianliné se lyfie pap. Daar was geen hartklop nie en sy het nie asem­gehaal nie.

“Die dokter het na my toe gekom en gesê sy gaan nie die aand maak nie. Sy het rêrig rof gelyk. Ons het aanhou bid.”

Die diagnose was ernstige skedelbreuk met bloeding en drukking op die brein.

Cianliné het wonderbaarlik herstel, maar die linkerkant van haar lyfie was verlam. 

Dokters het hardop gewonder of sy ooit sal kan loop en reg praat. 

“Nou is sy ’n regte woelwater en praat sonder ophou. Al wat sy oorgehou het, is haar balans wat soms effens wankelrig is en haar verlamde gesiggie.”

Dít en die droom om te kan glimlag. Wanneer die gesin foto’s geneem het, het Cianliné haar lam wangetjie met ’n vingertjie opgedruk.

Soms het sy voor die spieël gaan staan en haar mond met haar hande reguit getrek.

“Hoekom?” wou haar ma weet.

“Want ek wil ook baie graag ’n mooi glimlag hê,” het sy geantwoord.

Prof. George Psaras, medestigter en mediese hoof van die Smile-stigting, het gister in ’n dag lange operasie, wat ongeveer R200 000 sou kos, begin om Cianliné se glimlag terug te bring.

In dié prosedure word ’n spier en senuwee uit haar binne-bobeen geoes en in die plek van die 18 gesigspiere aan haar linkerkant ingeplant.

Dit is deel van ’n reeks plastiese, rekonstruktiewe en re­animasie-operasies wat die Smile-stigting in die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg uitvoer.

Volgens Van der Westhuizen het die gesin die “slapies afgetel” tot dié groot gebeurtenis.

“Ouers moet uit ons hartseer leer. Maak vas jul TV’s. Dit sal jou en jou kind baie moeite, hartseer en trauma spaar. ’n Ongeluk gebeur bitter maklik,” het Van der Westhuizen gesê.




Chris Rossouw besoek vir Cianlinè

Chris besoek vir Cianlinè



Storie deur Pauli van Wyk wat in Beeld verskyn het saam met video deur Liezel Els.

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Video-Kyk-net-na-my-nuwe-glimlag-20121025

Die vyfjarige meisietjie wat dié week onder die mes was, het gister aandagtig gekyk na die soort glimlag wat sy hoop om gou te hê.

Chris Rossouw (7) het ’n jaar gelede reanimasie-chirurgie soortgelyk aan Cianliné se operasie vandeesweek ontvang en glimlag nou breed. 

Prof. George Psaras, plastiese chirurg en medestigter van die Smile-stigting, het ’n ingewikkelde operasie op albei gedoen waarin hy ’n spier uit die bobeen geoes en in ’n verlamde wang ingeplant het.

Chris het Cianliné gister in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg besoek waar sy aansterk ná haar dag lange operasie.

“Kyk, Mamma, al het ek pyn, glimlag ek nog steeds,” het sy kort ná die operasie aan haar ma, Monica van der Westhuizen, gesê, waarna dié in trane uitgebars het.

Toe sy ’n jaar oud was, het Cianliné ’n groot, swaar TV-stel op haar omgetrek.

Sy het bo verwagting goed herstel van die ernstige skedelbreuk en bloeding op die brein, maar die linkerkant van haar gesiggie is sedertdien verlam.

Die spier uit haar been sal uiteindelik die funksies van die 18 gesigspiere moet oorneem en sal sorg dat Cianliné moontlik teen Kersfees vir die eerste keer in vier jaar kan glimlag.


Chris se operasie was ’n jaar gelede. 

Hy was twee toe sy pa, Attie, met sy bakkie agteruit gery en Chris per ongeluk daaronder beland het. Die regterkant van Chris se gesig was verlam en sy gehoor en sig aangetas.

Dié woelwater het volkome herstel en was gister baie opgewonde oor sy glimlag en het kwetterend met Cianliné gesels. 

“Vertel my, watter bakkie het jou omgery?” het hy gevra.

No comments:

Post a Comment