Wednesday 19 September 2012

Sondagverkragter Uitspraak

Steyn die dag net voor uitspraak in die hof.

My weergawe.

Soos almal weet volg ek die Sondagverkragter verhoor nou al van Februarie af. Ek moet sê die was een van die mees uitdagingste stories waarop ek nog gewerk het. Nie net die fotografiese uitdagings nie, maar ook die emosies waardeur mens gaan, nie net my eie nie, maar die families wat betrokke was en geraak was deur die saak. Al wat ek kan sê is dat ons almal bly is die uitspraak is gegee en die hoofstuk kan amper afgesluit word. Kyk uit vir my volgende blog oor die uitspraak. 

Steyn wag om die uitspraak te hoor.






Henriette Farmer die suster van Lazanne Farmer in die hof tydens die uitspraak. (Ek sluit die fotos van die Farmer en De Waal gesin in om te wys watse invloed Jaco Steyn in hulle lewens gehad het.)

Shireen De Waal en Jessica Du Toit tydens die Uitspraak.



Shireen De Waal het in die tee breuk na voor gekom en Jaco Steyn gekonfronteer en die volgende vir hom gesê:
"Jy het my dogter vermoor. Kyk my in die oë. Jy sal boet vir wat jy gedoen het, ek wil hê jy moet pyn ervaar vir wat jy gedoen het.” 


Steyn gesels met die media na hy skuldig bevind is op 33 van die 37 aanklagtes.

Steyn raak emotioneel terwyl hy gepeper word met vrae na sy skuldigbevinding op 33 aanklagtes.


Storie deur Pauli van Wyk wat in Beeld verskyn het op 18 September 2012

Shireen de Waal, ma van Louise, ’n slagoffer van die Sondagverkragter, het gister woedend in die hof op hom afgestorm nadat hy skuldig bevind is aan moord op en ontvoering van haar dogter, maar onskuldig op ’n aanklag van verkragting.

Die Sondagverkragter, Jaco Steyn, is gister skuldig bevind op 33 van die 37 aanklagte teen hom.

De Waal het Steyn in die teepouse bestorm en gegil: “Jaco Steyn, ék is Louise de Waal se ma. Jy het my dogter vermoor. Kyk my in die oë. Jy sal boet vir wat jy gedoen het, ek wil hê jy moet pyn ervaar vir wat jy gedoen het.” 

Hy het haar nie in die oë gekyk nie, maar na joernaliste om hom.

De Waal het buite die hof gesê sy is baie ontsteld.

“Louise wás ook verkrag. Wat anders het hy vir twee uur met haar gedoen? Dít is waarom hy haar ontvoer het! Ek is rêrig ongelukkig.”

Regter Sita Kolbe het die uitspraak in ’n stampvol hooggeregshof in Thokoza gelewer.

Louise is omstreeks 07:30 op 12 Oktober 2011 ontvoer. Haar lyk is omstreeks 10:30 dieselfde dag in ’n veld in die Maropeng-gebied aan die brand gesteek.

Die vriendin wat destyds saam met Louise was toe sy ontvoer is, was ook gister in die hof en het bitterlik begin huil die oomblik toe Steyn by die hof inloop. Sy het weer begin huil toe Kolbe getuienis aangehaal het oor hoe Louise dood is. Haar ma het haar deurentyd getroos.

Kolbe het in haar uitspraak gesê hoewel die staat net omstandigheidsgetuienis ingedien het, was dit genoeg om Steyn bo redelike twyfel aan die meeste van die klagte skuldig te bevind.

“Steyn is ’n selferkende leuenaar,” het Kolbe gesê. Sy het verwys na Steyn se selfoonrekords wat hom telkens op die misdaadtonele geplaas het.

Kolbe het ook bevind Steyn is skuldig aan strafbare manslag op Lazanne Farmer, en nie moord nie soos in die klagstaat aangeteken.

“Die staat het die dood van Lazanne nie bo redelike twyfel as moord bewys nie, maar wel strafbare manslag,” het Kolbe gesê.

Lazanne se oudste suster, Henriëtte Farmer, was in die hof tydens dié uitspraak, maar haar ma, Anna, het nie kans gesien daarvoor nie.

Lazanne is op 5 September 2010 dood ná sy teen 60 km/h uit ’n bewegende voertuig gespring het. Steyn het Lazanne se 16-jarige vriendin, wat ook ontvoer is en nie kon ontsnap nie, later verkrag en gedwing om drank te drink, is bevind. 

Buite die hof het Henriëtte gehuil. “Ek sou graag wou hê dit moes moord gewees het. As hy haar nie gekidnap het nie, was sy nie dood nie. 

“Hoekom het jy my sussie gevat? Ek hoop hy rot... ek hoop hy rot in die tronk...” het sy baie hartseer gesê.

Adv. Anton Lerm, vir Steyn, het gistermiddag gevra dat sy vonnisse gelyktydig uitgedien word.

Die staat sal môre getuienis ter strafverswaring aanbied.



Gaan lees die res van die artikels oor die Sondagverkragter op Beeld se webwerf en kyk na die videos.
http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/VIDEO-Kyk-vir-my-Jy-sal-boet-20120918

2 comments: