Tuesday 1 November 2011

Reef Carneson


Die foto hierbo en die drie hieronder is van waar Reef aangedring het om tee te maak, sy ouma het hom op die kas getel en hy het net beduie wie wat moet doen en wie wat waar moet gaan haal. Persoonlikheid het hy baie van.







Reef by sy pa

Reef en sy oupa 




Reef saam sy pa en ma.


Reef is regtig 'n klein vegtertjie, van die oomblik wat ek hom ontmoet het, het hy in my hart ingekruip. Hy is so vol energie soos enige ander kind van sy ouderdom. Dit was 'n besonderse moeilike opdrag gewees om vir Reef te gaan afneem, die rede hiervoor is dat hy so besig is en nie vir 'n oomblik wou stilsit nie. Die ander rede is natuurlik dat ek 'n foto wou kry wat sy persoonlikheid asook sy siekte wys sonder om die foto op te stel. Die fotos hierbo is wat ek gekry het.

Die Artikel hieronder is uit Rapport en geskryf deur Hanri Wondergem. Ek en Hanri het die storie vir Rapport gedoen.

Die driejarige Reef Carneson is ’n klein vegtertjie met ’n groot lag.


Dié seuntjie, wat die afgelope week ’n golf van deernis op die sosiale netwerke ontlok het, was sedert sy geboorte baie siek. Maar ’n mens sou dit nooit kon raai as jy luister na sy skaterlag wat deur sy ouerhuis weerklink nie.



Reef is net ná sy geboorte in 2009 met leukemie gediagnoseer en het kort daarna ’n beenmurgoorplanting ondergaan. In sy drie lewensjare was hy al sewe keer in intensiewe sorg.



En nou het hy ’n erge graad van transplantaat-versus-gasheer-siekte (TVGS), ’n gevolg van die beenmurgoorplanting. Sy vel is oral gebars en teer, sy vuisies is permanent gebal, hy kan nie normaal loop nie en word deur ’n buis deur sy neus gevoed.



Sedert dit bekend geword het dat sy ouers, van Tedderfield in die suide van Johannesburg, se mediese fonds nie vir sy behandeling in Amerika gaan betaal nie, het 900 mense ’n aanlyn-versoekskrif onderteken om druk op Discovery Health uit te oefen om dit wel te doen. 



Reef het feitlik oornag 7 335 Facebook-vriende gekry en meer as 4 000 het na ’n YouTube-video oor hom gekyk. Sowat R100 000 is reeds geskenk vir sy behandeling in Amerika, maar minstens R3,5 miljoen is nodig.



Tydens Rapport se besoek het Reef aanhoudend gelag, maar hy is duidelik baie siek. Later word hy moeg, maar daar is geen trane nie. 



“Hy kan nie huil nie omdat die siekte ook sy traankliere aangetas het,” verduidelik sy ma, me. Lydia Carneson. 



Sy pa, Ryan, voeg by: “As hy nie die nodige behandeling kry nie, gaan hy doof en blind word en in ’n rolstoel gekluister wees.”



Reef weeg 9,4 kg, net 4 g swaarder as Payten, sy sussie van agt maande. Hy dra babaklere en kan nie met ander kinders speel nie, want hy het feitlik geen immuniteit nie. 



Tog is hy ’n gelukkige kind, sê sy ma. “Dis asof hy vrede in sy hartjie het. Elke dag is ’n wonderwerk vir hom.”



Dr. Janet Poole, ’n pediatriese onkoloog, sê TVGS beteken ’n skenker se beenmurg val die ontvanger se liggaam aan. Volgens haar is medikasie en kundige dokters wel in Suid-Afrika beskikbaar, maar omdat nie baie oorplantings in Suid-Afrika gedoen word nie is TVGS seldsaam, en is daar nie voldoende geriewe vir rehabilitasie nie. 



Reef se ouers sê hulle neem hom einde vandeesmaand Los Angeles toe, al weet hulle nog nie waar die geld vandaan gaan kom nie. “Ons hou aan bid daar sal uitkoms wees.” 

MEER INFORMASIE OOR REEF KAN VERKRY WORD BY : http://www.savebabyreef.com/


MORE INFORMATION ON REEF CAN BE OBTAINED FROM: http://www.savebabyreef.com/ 







No comments:

Post a Comment