Monday 30 June 2014

Suid Afrika se eie Billy Elliot

Leroy Mokgatle (14) 

Storie deur Charlea Sieberhagen (Beeld Joernalis) 

’n 14-jarige seun van Rustenburg sal volgende naweek saam met van die VSA se beste balletdansers op die verhoog te sien wees.
Leroy Mokgatle is so te sê Suid-Afrika se eie Billy Elliot – ’n seuntjie wat nie gaan toelaat dat enigiets tussen hom en sy balletskoene staan nie.
Toe die ander gr.2-seuns destyds sokker gekies het, het ­Leroy ballet gekies.
Wanneer hy van Vrydagaand af tydens die Stars of American Ballet-vertoning op die planke is, sal hy een stappie nader wees aan sy droom om eendag ’n professionele danser te wees.
Dirk Badenhorst, wat die produksie by Montecasino in Fourways aanbied, het Leroy vroeër vanjaar tydens die internasionale balletkompetisie in Kaapstad raakgesien toe hy ’n solostuk uit Santanella gedans het.
Hy het hom kort daarna genader om deel te wees van die Amerikaanse produksie.
“Ek was baie verbaas dat hy wil hê ek moet optree, maar dit is baie opwindend,” sê Leroy met ’n groot glimlag.
“Ons moes in gr.2 op ’n vorm invul aan watter sport ons sal wil deelneem.
“Ek het nie geweet wat ballet is nie. Ek was maar net nuuskierig,” sê Leroy.
Hy was toe nog ’n leerling aan die Laerskool Oost-Eind in Sunnyside, Pretoria.
Leroy meen hy was dadelik gek na ballet, maar hy moes leer om die ander seuns se gespot te verduur.
“Hoe kan ek dit stel...Ek voel gemakliker daarmee om aan iets deel te neem waarmee ek ongemaklik is,” sê hy.
Hy hou daarvan dat ballet hom voortdurend uitdaag en hom uit sy gemaksone haal.
Ek doen waarvoor ek lief is en waaroor ek passievol is. Ek wou iets doen wat anders is.
 Leroy Mokgatle
“Ek meen, regtig. Waar gaan sokker jou in elk geval bring?
“Kyk waar is daardie seuns nou.
“Hulle is in die hoërskool en hou hulle besig met dwelms.
“Ek doen waarvoor ek lief is en waaroor ek passievol is. Ek wou iets doen wat anders is.”
Leroy is deur sy ma in die Pretoriase middestad grootgemaak, maar ná haar dood in 2007 het hy weer by sy ouma in Rustenburg gaan woon.
Hy woon die afgelope 18 maande in Randburg by die Art of Motion-dansskool, waar hy lang ure in die dansateljee deurbring. Hy ondergaan ook tuisonderrig.
“Ek verkies om anders te wees,” sê hy.

“Ek wil alles eendag perfek doen sonder dat iemand my hoef reg te wys.”

No comments:

Post a Comment