Monday 5 August 2013

Nag van die lang messe?

Cathy Saunders (44) in 'n kamer in haar huis waar sy van haar benodighede stoor.

Hennie van den Berg provinsiale leier van die Suidlander saam van sy surplus voorraad.

 Meyer, Tanya en Markus Roos (6) is gereed om te onttrek sou anargie uitgbreek.

Markus Roos (6) by sy familie se sleepwa.
\
Frik de Villiers by sy karavaan.

Frik de Villiers by sy sleepwa wat altyd gepak en gereed staan.

2 Minute noodles en blikkies kos wat in 'n krat verpak is.


Gerrie van Vuuren in sy karavaan wat gereed staan. Gerrie is nie lid van die Suidlanders nie, maar maak tref sy eie voorsorg maatreëls vir ingeval.


Artikel deur Kirby van der Merwe (Joernalis BY) 

Gerrie van Vuuren van die Wawiel-Boererestaurant op Ventersdorp se karavaan staan gereed. Hy glo ’n grootskaalse aanval is op hande.
Suid-Afrika gaan brand. Ná die dood van ’n groot swart leier sal vure oral uitslaan en “die volk” met kapmesse uitgemoor word.
Dié sogenaamde “nag van die lang messe” word glo voorspel in ’n visioen van Niklaas “Siener” van Rensburg (1864-1926), bekend as Boere-profeet. Dit is op 4 April 1915 aangeteken:
“Ek sien ’n doodkis wat in ’n graf afsak; vure wat uitkom, maar ’n groot vuur wat voor uitkom. Nakende mense verskyn. Oom Niklaas sit by ’n tafel en hy breek die tert deur. Dit is donker, maar silwer letters verskyn op ’n blikplaat.”
Uit die 650 visioene van Siener van Rensburg wat opgeteken is, word dié visioen byna ’n eeu later geïnterpreteer as die bewys van ’n volksmoord wat kom.
Gustav Müller, nasionale leier van die Suidlanders, sê ’n volksmoord is al sedert 1994 aan die gang met na bewering “35 000 blanke moorde”. Ons praat oor die telefoon, want hy woon deesdae op ’n Karoo-dorp.
“Ons blankes bevind ons tans volgens die webwerf World Genocide Watch op ’n vlak 6-volksmoord,” sê hy. “Ons berei ons voor vir ’n revolusie, ’n Arabiese Lente, dus ’n volskaalse vlak 7-volksmoord.”
Maar hulle wat die Suidlanders is glo nie spesifiek in die nag van die lang messe nie, ook nie noodwendig in profesieë nie.
“Jy sal nie ’n lid van die Suidlanders kry wat praat van die ‘nag van die lang messe’ nie. Ek weet nie waar daai term vandaan kom nie. Ons verwys na ’n situasie van totale anargie. Die Suidlanders gaan nie padgee as Mandela sterf nie.”
Tog word nag van die lang messe met die Suidlanders vereenselwig. Andries Raath, regsprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat en skrywer van die boek Niklaas van Rensburg: Die Siener, meen die term het moontlik sy oorsprong in een van hul vele pamflette.
Net soos die Heilbron Spar – een van die punte waar die Suidlanders bymekaar sou kom voordat hulle van daar af na voorbereide plekke van veiligheid sou vertrek.
Deesdae is die bymekaarkomplekke, roetes en eindbestemmings hoogs geheim. En die leier sal die boodskap om te onttrek deur die strukture oordra.
Dit is ook nie ’n uitgemaakte saak dat oudpres. Nelson Mandela dié groot swart leier is wie se dood tot volskaalse anargie gaan lei nie. Daar is sprake dat dit ná die dood van die vierde groot swart leier gaan gebeur. Dalk ná Jacob Zuma, die derde president van Suid-Afrika. Of ná die vierde . . . dalk Malema?
‘Als het 100% waar geword’
Gerrie behoort nie aan enige groep nie, maar hy glo ook ’n volksmoord is op hande. Die vermoorde AWB-leier Eugène Terre’Blanche se plaas is naby aan hom. En daar was nog plaasaanvalle op twee buurplase waarin twee boere gesterf het.
“Ek wil begin deur te sê ek glo in God-drie-enig. Nié in Siener van Rensburg nie,” sê hy. Ons sit by een van die tafels in sy restaurant.
“Ek sien hom ook nie as ’n profeet nie, net as iemand wat God gestuur het om vir ons moed en leiding te gee en ’n bietjie meer sekerheid te skep vir wat in die toekoms gaan gebeur.
“Jy moet aanvul,” sê hy vir sy vrou, Susan, wat langs hom inskuif. Maar sy sê aanvanklik min.
“Jy kan opneem wat ek sê, want dit is belangrik dat ek nie verkeerd aangehaal word nie: Alles wat Siener voorspel het toe hy geleef het, het 100% waar geword. Daarna het mense Siener se visioene oorvertel en stertjies bygelas. Hy is nie daar om dit te bevestig of te weerlê nie.”
Gerrie praat ontspanne, rustig.
“So, ons kan nie aanneem al dié visioene gaan 100% waar word nie. Dan gaan ek met ’n leuen vorendag kom. Maar ek glo die meeste daarvan sal nog waar word.”
Want Siener het voorspel die moeilikheid gaan by ’n koppie naby Rustenburg begin, sê Gerrie.
“Ek sien dit as Marikana, al moet jy onthou daar was toe nog nie myne daar nie.”
Hy verwys na ’n visioen van Siener wat op 1 Oktober 1917 aangeteken is:
“Die mieliestronke is bij Johannesburg aan brand. Aan hierdie kant van Johannesburg is ’n klomp vaal witpens bokke bij mekaar op ’n bult. Van Oost kom wilde makauwe en trek die zelfde rigting wat die vuur gebrand het. Aan
die Ooste kom ’n ry kafferassegaaie uit. Van Oost na noordwes gaan groot en klein beeste uit.”
“Die strook wat van Rustenburg deur Pretoria en hier deur Lichtenburg se wêreld strek– dít is die streek wat die ergste gaan deurloop en vanwaar mense moontlik sal moet vlug,” verduidelik hy.
Die diensleweringbetogings wat regoor die land uitbreek, is ’n voorspel tot die nag van die lang messe. Daar is groepies wat tevrede is, sê Gerrie, maar die oorgrote meerderheid van die bevolking is arm, en Julius Malema is dalk die brandende vuurhoutjie in die kruitvat.
“Vat nou maar die Malema wat ’n mens gedink het is nou half tot niet. Vergeet daarvan. Hy sweep die jeug en senior leiers op. En dis in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing.”
Hy sê-vra: “Waarheen vlug jy as die moeilikheid kom? Ek wil my verstout en sê die Noord-Kaap is menslik gesproke die veiligste deel as jy vinnig wil wegkom. Dit is die oopste.
“Én Siener sê in ’n ander visioen die spoorlyn tussen Prieska en Lüderitz (in Namibië) gaan die enigste spoorlyn wees wat dan oop sal wees.”
Al het Siener dit nie pertinent gestel nie, sê hy, lei hy af Prieska is die plek waarheen hy gaan “onttrek”.
“Want Prieska is goed geleë, ver weg en langs water.”
Hy sê hy het “nét voordat Mandela ernstig siek geword het” patrone gaan koop, maar die patrone was in dié gebied uitverkoop.
“Ek kan nie sê almal koop patrone nie, maar hoekom is daar ewe skielik ’n skaarste? Toe moes ek op ander plekke gaan koop.”
Dit is een van die heel moeilikste besluite in ’n mens se lewe om wat jy opgebou het, agter te laat, sê hy.
“Maar ons glo ons sal deur God se genade alles weer terugkry.
“En onthou,” sê hy, “Siener het mos gesê die Duitsers gaan ons voorsien van die mees gesofistikeerde wapens wat die wêreld ooit gesien het.”
’n Miljoen Suidlanders
Gustav het twee Gautengse Suidlanders afgevaardig om my te vertel hoe die organisasie vir die vlak 7-volksmoord voorberei.
Hennie van den Berg verkies om ons by die Wimpy op Meyerton te ontmoet. Dan ry hy vooruit in sy bakkie tot by ’n kleinhoewe, verskans agter hoë mure, aan die buitewyke van die dorp. Die huis behoort aan ’n lid van die Suidlanders.
In die sitkamer van die huis speel ’n groot musieksentrum onherkenbare musiek in die agtergrond. Verder is daar nie ’n boek, plakkaat, prent of snuistery wat meer van die huis se inwoners vertel nie.
Hennie is leier van die ou Vaaldriehoek en ’n stukkie van die Vrystaat.
“Die getal Suidlanders sal jy nie op die webwerf kry nie, maar ek skat ons het meer as ’n miljoen lede in die land.”
Sy stem is krakerig van die griep. Hy glo in Siener se visioene, maar “ek laat nie my lewe daardeur lei nie”, sê hy onverstoord.
Hy skuif hom gemaklik terug in die swart leerstoel, sê dan: “Ook word Siener selde by die Suidlanders se algemene vergaderings voorop gehou. Ons is nie aanhangers van Siener nie en ons staan en val nie by Siener nie.”
Die media is bewus van die program van “revolusionêre”, sê hy.
Nee, sê ek, wie ís die revolusionêre?
“Dis die werklose massas wat sukkel vir ’n lewe. As Mandela sterf, kom die laaste fase van hul revolusie, om alles vir hulself te vat.”
Hy meen die tekens is duidelik dat die revolusie ná Mandela se dood kom: “Demonstrasies raak gewelddadiger, mynstakings gaan gepaard met onverdraagsaamheid en lewensverlies soos by Marikana. Selfs die adjunkpresident van Suid-Afrika het vroeër vanjaar gesê die land is ryp vir ’n revolusie.”
Volgens Siener se visioene, sê hy, is die revolusie die begin van die “smeltkroes vir die blanke bevolking en die begin van die groot verdrukking”.
Maar die Suidlanders is gereed: “Sou daar ’n vlugteling-situasie ontstaan, het ons lede genoeg kos om ’n maand van te lewe.”
Die onttrekking sal in drie fases geskied: Net voor die swart leier se begrafnis vertrek ’n kerngroep, die leierskap, om finale voorbereidings te tref.
“As Siener se visioen waar word, volg ’n tweede onttrekking. Die derde fase is wanneer geweld so handuit ruk dat die polisie en die weermag nie meer beheer het nie en dit ontaard in ’n burgeroorlog of volskaalse revolusie.
“Dan volg die vlugteling-stadium, ’n noodsituasie. Dis wanneer Gustav die opdrag gee. Dan onttrek ons na die plekke van veiligheid.”
En as swart mense in die harwar wil saamtrek na veiligheid?
“Dit kan ’n moeilike situasie word,” sê hy ernstig. “Baie swart mense is nie revolusionêr nie, maar dikwels word hulle gedwing om deel te neem.
“Ek persoonlik dink nie hulle sal saam met ons wil trek nie, want as een ras teen ’n ander ras opstaan, sal dit nie veilig wees vir hulle nie. En ook nie vir ons in hul plek nie. Ons is natuurlik nie rassisties nie, hoor. Glad nie.”
Genoeg vir ‘gerieflik’ oorleef
Die Suidlander Frik de Villiers sê sy streek – Brakpan, Springs en Benoni – is voorbereid. Net in Brakpan is daar 127 gesinne wat gereed is om te onttrek.
Hy self kan op die daad sy sleepwa aan sy Land Rover Discovery haak en die pad vat.
Sy vrou, Sally, sal hul ander voertuig en karavaan bestuur.
In een van sy motorhuise staan sy sleepwa. Dit is aangepas vir groot hoeveelhede kos, eetgerei, toerusting, klere en medisyne, om twee jaar “gerieflik te kan oorleef”.
Hy laat sak ’n klap aan die kant van die sleepwa. Plastiekkratte rol maklik op rollers uit. Elke krat se inhoud is noukeurig op ’n etiket aangeteken. Frik wys hoe hy groot hoeveelhede kos gekrimp en verpak het.
Die sleepwa is toegerus met water- en dieseltenks.
“Die sleepwa slaan oop, en as ek die tente opslaan het ons 54 m² onder dak,” sê hy.
Twyfel hy ooit of hy die regte ding doen?
“Jy weet, ’n mens moenie die goed ligtelik opneem nie.”
Hy het ’n gedrukte lys van Siener se “gesigte wat hy gesien het en wat waar geword het”.
Die mees onlangse een is die moord op die Engelse soldaat Lee Rigby in ’n voorval wat aan Islamitiese terreur gekoppel is.
Frik sê Siener het die moord op Rigby in dié visioen, aangeteken op 1 Desember 1921, voorspel:
“In Europa kom ’n groot kom in gezicht en daar is vark wors in. Toe is daar ’n skottel water en uit die water kom ’n gekapte kop. Toe kom ’n zwart manel uit.”
Volgens sy lys het Siener onder meer die volgende “voorgehou”:
“ ’n Volksmoord op blankes, onteiening van blankes se grond, swart regering stort in duie. Swart opstand teen swart leiers, dood van ’n swart ikoon (kan Mandela wees), groot rou van swartes en opsweep teen blankes. Vlug van blankes, nag van blanke moorde met lang messe en uitbreiding na die res van die land, groot stakings in Suid-Afrika, bankrotskap van Engeland en sy totale ondergang, bankrotskap van Amerika. Groei van Moslem-bevolkings in Europa lei tot onderdrukking van Christene  . . .”
Vroeër, op sy stoep: “Hulle is besig om ons volk kaal te stroop,” sê hy.
“As ons kyk na die werkloosheid onder ons mense, die plakkerskampe wat opspring.
“Die blanke bevolking is in dié stadium die volk wat die ergste getref word. Ons werk word van ons weggeneem. Ons word onderdruk.”
Ons lewe op genadetyd, sê hy oor Mandela se verblyf in die hospitaal: “Omdat hy nog leef, sodat ons ons boodskap kan uitdra aan die mense.
“Siener was ’n godsdienstige man. Hy het die visioene gekry om ons te waarsku die tyd het uitgeloop . . .”

'n Ander uitkyk
Andries Raath, regsprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat en skrywer van Niklaas van Rensburg:Die Siener sê:
  1. Daar bestaan geen opgetekende en bevestigde visioen van ’n “nag van die lang messe” nie.
  2. Geen visioen van die dood van oudpres. Nelson Mandela verskyn onder die bevestigde visioene nie.
  3. “Myns insiens is dit ’n gefabriseerde en fiktiewe visioen wat deur sommige mense misbruik word om geloofwaardigheid aan hul fabriserings te gee,” sê hy.
  4. “Dis jammer die naam en reputasie van ’n eerbare mens soos Niklaas word so misbruik.”



No comments:

Post a Comment