Tuesday 12 June 2012

Klein Edouard kry nuwe Kornea










Storie deur Lourensa Eckard wat Maandag 11 Junie 2012 in Beeld verskyn het.


Daar is groot hoop dat klein Edouard Stander (4) van Witbank binnekort ’n bietjie sal kan sien nadat hy feitlik blind met katarakte op albei oë gebore is.

’n Kornea is onlangs teen groot onkoste uit Amerika ingevoer en op hom oorgeplant. 

En hoewel hy vir ’n hele paar maande met ’n oogklap sal moet loop en die steke baie lank gaan inbly, is die eerste tekens daar dat dit suksesvol kan wees.

Santie Stander, sy ma, vertel hy is al baie sensitief vir lig en nou is sy eers vol vertroue dat haar seun eendag sal sien.

“Met sy geboorte het die dokters nie besef Edouard is so te sê blind nie. Dit was eers toe my man die melkerige vlekke op Edouard se oë sien, dat ons besef het iets is verkeerd,” vertel Santie.

Byna vier jaar later kon ’n kornea-oorplanting gedoen word. Dokters het uit Amerika vir Edouard ’n kornea bestel wat op 28 Mei vanjaar oorgeplant wou word.

Die Standers se mediese fonds wou nie vir die kornea betaal nie omdat dit van oorsee ingebring is en hulle het toe self daarvoor betaal.

“Ons moes dit eenvoudig betaal, want in Suid-Afrika wag ’n mens soms langer as vier jaar vir ’n kornea.”

Op die dag wat die operasie veronderstel was om plaas te vind, was daar ’n oponthoud by doeane by die O.R Tambo-lughawe. 

“Ek was vreesbevange omdat ek geweet het hoe fyn alles beplan is en dat daar net soveel tyd was vir die operasie,” het sy bygevoeg.

Die kornea is die volgende dag oorgeplant en klein Edouard is al weer op die been en net so bedrywig soos altyd.

No comments:

Post a Comment