Ethan Toth (10)
Blake Worthington (7) en sy pa Alec.
Pieter le Roux en sy seuntjie Dyllon (5).
Storie deur Charlea Sieberhagen (Beeld)
“Kom ons haal ons hoedjies af,” sê Basie Lourens met sy grys hangsnor vir die groot groep mense voor hom.
Die winterson is flou. Dis laatmiddag in Brakpan.
“Hemelse Vader . . .” begin Basie bid.
Hy bid dat die Vader sy hand van beskerming oor al die renjaers sal hou. Dat hulle veilig sal wees, mooi sal ry en vanaand weer veilig huiswaarts sal keer.
“Amen,” sê Basie en spring dadelik weg met sy toespraak.
“Ons gaan op die baan om reisies te jaag . . . Kom ons hou dit skoon en netjies.
“Ons sal veral die Van Rensburg-pa en -seun dophou,” skerts hy dan.
Die groep mense lag. Seuns met skewe pette sit op die muurtjie en trek hul monde effens skeef.
Daar is kennisgewings teen die draad.
No spinning in pits. R1000 fine. No braai’s in the pits.
Rock Raceway is gereed. Die musiek op die pawiljoen speel. Voertuie staan geparkeer met hul kattebakke oop in die rigting van die renbaan. Kookolie suis al in die skottelbraai. Vleisbraaivure rook.
“Wil jy ’n bier hê?” vra een van die vrolike toeskouers vir die fotograaf.
Die mense sit knus teen mekaar. Toegedraai in komberse. Op die pawiljoene. Op kamp-stoele. In hul motors se kattebakke. Hulle wag vir die kinders om eerste deel te neem.
Dolf Kotzeek’t vir Charlea gevra of die Kotze se e nie ’n strepie moet kry nie. sy sal seker maak en my laat weet.se vingers krul om die draad van die heining wat die renbaan afsper. Sy oë volg die sewe klein renmotortjies al om die baan.
Hy skree vir sy “poppie”.
“Rowdy Megz” lees die plakker in fênsie letters op die renmotor.
Megan-Lee Kotze (8) jaag om en om. Vinnig. Tussen 80 km/h en 100 km/h. Haar kleurryke renmotor vol foto’s van M&M-lekkers flits verby. Haar kop met die groot helm gaan heen en weer. Heen en weer.
“Kom Mêggie!” skree Megan se ma, Rina. Sy klap haar hande met blou gemanikuurde naels saam.
“Dis stresvol,” sê Rina.
Sy vertel dat Megan altyd modelwerk gedoen het.
“Sy het so paar jaar gelede ’n kompetisie gewen en toe was sy in die Brakpan-koerantjie. Sy het dit gelos vir racing,” sê die kort blonde vrou met ’n fyn stem. Haar oë bly op haar dogter se renmotortjie.
Megan eindig derde in die eerste ronde van die Ninja Midgets-wedren.
Megan se pa glimlag van oor tot oor. Hy gee sy dogter ’n drukkie, glimlag en gesels. In die lug tref sy palm hare. Megan is in haar noppies.
“Dit was eintlik lekker,” sê sy.
“Ek was amper tweede. Volgende keer is ek eerste,” sê die blondekop vol selfvertroue.
Sy sê sy was maar nog altyd skaam. En toe modelwerk haar begin verveel, het sy besluit om liewer aan motorwedrenne deel te neem.
“Nou kan hulle nie jou gesig sien nie.” Want sy dra mos ’n helm, verduidelik sy.
Motorbande skree. Enjins raas. Dis nie net die kinders wat hier jaag nie. ’n Verskeidenheid motors neem deel. Mans. Vroue. Opgeboude, aangepaste motors. Ou motors.
Abie Sada, die renbaan se bemarker, lewer met ’n fluweelagtige radiostem kommentaar uit die groot lapa aan die anderkant van die baan, langs die hoofpawiljoen. Die reuk van gaar groenmielies, boereworsrolle, pannekoek en springmielies hang in die lug.
Twee kinders loop elk met ’n reuse-bondel blou spookasem op ’n stokkie. Op een van die kleiner pawiljoene sit ’n vrou met pienk en swart hare. ’n Entjie aan is ’n ander vrou se hare rooi bo en swart onder.
’n Seuntjie sit alleen op ’n sitplek gemaak van ou motorbande en beton. Hy het ’n klein denim-onderbaadjie soos ’n motorfietsryer aan: “The Mutts”, staan daar op sy rug geskryf. En heel onder: “Puppy”.
Sy naam is Blake, verduidelik hy byna onhoorbaar. Die V8 Sprint-motors jaag verby. En hy is sewe jaar oud, sê Blake.
Sy oë bly vasgenael op die renbaan.
“Elke keer as ons hier verbyry, dan vra hy of ek hom hierheen sal bring,” vertel Blake se pa, Alec Worthington. Hy het dieselfde denim-onderbaadjie aan as die sewejarige, maar hy is nié ’n “puppy” nie. Silwer ringetjies blink in sy ore.
“Toe besluit ek vandag laat hy maar ’n bietjie pret hê saam sy pa.”
Blake meen hy wil ook eendag só kan jaag. Hy sê hy het vir sy pa gesê hy wil ook ’n motortjie hê.
“Maar my pa het nie nou geld nie.”
Hierdie gejaery is ’n duur stokperdjie. Almal is dit eens as jy daar by die pits rondvra.
“As jy ’n race-ready karretjie koop, kan dit omtrent R15 000 kos,” sê Rina.
“En dis nou maar net ’n Ninja Midget.
“Dan kom daar nog plate en stickers by. En al die safety gear wat sy ten duurste moet hê. Dan kyk jy na so R30 000.”
’n Nuwe enjin kan jou byna R10 000 uit die sak jaag, sê Attie Labuschagne, Keegan (11) se pa.
“Respray kos omtrent R4 000.”
Voor die kinders weer kans kry om te jaag, kry die ander motors ’n beurt. Dan speel die kinders met ’n ou netbalbal om die gewag verby te kry.
Matt de Bruyn van Boksburg met sy geel-rooi-swart-oorpak, maak gereed om met ’n Micro Midget weg te spring. Die renmotor bestaan byna net uit ’n raam van pype. Kaskar-agtig. Maar nie heeltemal so eenvoudig nie. Matt was al dikwels die Brakpan-kampioen. Selfs al Suid-Afrikaanse kampioen, sê hy.
“Ek ry net nie met karre met dakke nie,” sê Matt.
Hy wys na die renmotor met sy bruingebrande hand. Glimlag. Sy fletsblou oë trek skrefies.
“Hy was eers swart en rooi. Nou is hy groen en swart. Dolf het gesê ons moet die kleure change.”
Die volkslied blêr iewers uit ’n motor. Dis tyd vir die rugby om te begin en die son sak nou vinnig.
Net Frans Kruger (61) se gesig met sy vriendelike glimlag steek uit by die grys kombers.
Vir baie jare het hy op hierdie einste renbaan gejaag, sê Frans.
“Ek is nou net ’n spectator. Ek het alles gery. V8 Sprints. Saloons. Stock cars. Van 1970 af.”
In 1998 het hy teen ’n muur vasgery.
“Toe word ek maar ’n scrutineer.”
Frans se vrou van die afgelope drie maande skud haar kop.
“Gee my die plaas,” sê sy.
Die son se laaste strale verdwyn.
Dis kuier-tyd. Familietyd.
Die karre jaag. Motorbande skree.
Dis Saterdag in Brakpan.
http://www.beeld.com/bylae/2014-06-21-n-saterdag-in-brakpan
No comments:
Post a Comment