Some of the pics I took of Lauren. This was a very fun shoot, and I must admit Lauren was very patient and she is very photogenic so all the pressure was on me to produce some good pics.
Artikel deur Anél Viktor van in Pols verskyn het.
Lauren Beukes is die sexy-cool koningin van sci-fi-gruwel, harde realiteit, pulp fiction en is ’n literêre rockster in wetenskapfiksie-sirkels wêreldwyd.
Maar sy wil nie in ’n boksie geplaas word nie.
“Mense het baie vooropgestelde idees oor wetenskapfiksie,” sê Beukes. “Mense het al vir my gesê: ‘Geluk met jou nuwe boek, maar ek lees nie wetenskapfiksie nie.’
“Of iemand sal sê: ‘O, dis net ’n riller’ wanneer ek eintlik ook sosiale kwessies aanroer.” Die enigste manier vir haar om oor dié kwessies te skryf, sê sy, is om dit op te tooi met ’n cool storie.
“Wetenskapfiksie is nie wat jy dink dit is nie. Dis nie Transformers nie en dis nie Battlefield Earthnie,” sê sy. “Dis meer soos District 9 en Inception.”
“Dieselfde geld comics,” sê Beukes, wat onlangs ’n strokie vir DC Comics se Fairest-reeks oor Raponsie se avonture in Japan neergepen het.
“Jy kan rêrig donker, diep en ware stories met comics vertel,” sê sy.
Suid-Afrikaanse stories
As sy egter moet kies tussen strokies, TV-teks, boeke skryf en skrywer-regisseur wees, kies sy boeke.
“Daar is werklike diepte en meer ruimte. Ek is baie lief vir dialoog.”
Beukes het met haar Zoo City die Arthur C. Clarke-prys in 2011 gewen. Dié boek, wat in Johannesburg afspeel en misdaad, towerkuns en die musiekbedryf as tema het, is as ’n noir-riller beskryf.
Haar vorige treffer, Moxyland, is ’n kuber-punk-storie wat in ’n futuristiese Kaapstad afspeel.
The Shining Girls, ’n misdaadriller oor ’n reeksmoordenaar in Chicago wat deur tyd kan reis, is verlede week in Suid-Afrika bekend gestel. Beukes neem hiermee haar karakters vir die eerste keer uit Suid-Afrika.
“Ek het dadelik geweet ek stel belang in die 20ste eeu, eerder as om te spring na die grotman-dae en die Middeleeue,” sê sy.
“As ek die boek in Suid-Afrika in die 20ste eeu gehou het, sou apartheid front and centre word.
“Ek het besluit om dit op Amerika, en spesifiek Chicago, te grond, want ek het al daar gebly,” sê sy. “Ek dink ek het ’n gevoel vir die plek.”
Volgens haar het Chicago en Suid-Afrika soortgelyke probleme. “Hulle het al gesukkel met korrupsie, apartheid, behuising en het ’n hoë misdaadsyfer.”
So is Beukes ’n ruk gelede Chicago toe vir ’n navorsingsreis, waar sy met ’n speurder gesels het.
“Hy het my vertel van ’n vrou wat met ’n halssnoer vermoor is. Toe hy die volgende dag by die lykshuis kom, is alles gesteel – haar ring, oorbelle en die halssnoer, wat die moordwapen was.
“Ek wou weet: ‘Is jy seker dié is nie Suid-Afrika nie, want dit klink soos ’n Suid-Afrikaanse storie?’”
Haar volgende boek, Broken Monsters, gaan ook in ’n Amerikaanse stad (Detroit) afspeel. “Detroit voel soos Hillbrow,” sê sy.
Fantasie én werklikheid
Sy sê die werklike lewe is meer vindingryk en verrassend as “enigiets wat jy kan uitdink”.
“Jy wil hê jou lesers moet in jou mal idee glo en die enigste manier om dit reg te kry is om alles anders so werklik moontlik te maak.”
Vir The Shining Girls het sy twee deeltydse navorsers aangestel.
“Ek het een van hulle gevra om navorsing te doen oor hospitaalsorg in 1931 – hoe hulle ’n tendon-besering behandel het en wat dit gekos het,” sê sy. “Hy het toe teruggekom met ’n artikel uit 1936 oor ’n werklike burlesk-danseres wat haarself met radium geverf het as sy gedans het.”
Dit is hoogs radio-aktief, so sy het oral op haar lyf blase gekry.” Dié danseres het ’n karakter in The Shining Girls geword.
Sy het ook haar eie moordmuur opgerig. Die boek gaan oor tydreis en Beukes moes met drie verskillende tydlyne werk.
Daar is Harper (die moordenaar) se tydlyn, wat reeds ’n moeilike een is omdat hy nie die meisies (die “shining girls”) in chronologiese volgorde vermoor nie. Dan is daar die boek se tydlyn en die historiese tydlyn.
Boonop los Harper anachronistiese leidrade op die lyke. “Hy neem ’n persoonlike artikel van een meisie en los dit by ’n ander meisie,” sê Beukes. “Ek moes dus ook oor dié voorwerpe kophou.”
Tegnologie en top-apps
Benewens haar moordmuur kon sy nie The Shining Girls sonder die app Scrivener geskryf het nie.
Dit laat jou toe om die hoofstukke in jou boek te “manipuleer”.
Nie net is tegnologie in haar boeke verweef nie, maar sy gebruik self verskeie apps en tools wanneer sy skryf. So moet die app Freedom haar van die internet “uitsluit” terwyl sy skryf.
Sy hou ook van die app Zombies, Run! wat jou drafsessie in ’n virtuele avontuur verander. “Dit is wonderlik om te maak asof jy in ’n wêreld is waar zombies jou jaag,” sê sy. “Die storielyn is regtig goed geskryf.”
Sy is boonop ’n ywerige Twitter-gebruiker.
Die idee van ’n reeksmoordenaar wat deur die tyd kan reis het by haar opgekom in ’n gesprek op Twitter.
“Twitter is soos om by die beste dinner party te wees en jy kan jou gaste met die hand kies,” sê sy. “Op Twitter is daar die wonderlikste kurators van interessante inligting.”