Monday 9 January 2012

Derick Kuün






Die Fotos van Derick was geneem op hulle familieplaas vir 'n Artikel wat in Beeld verskyn het.


Die storie hieronder is geskryf deur Pauli van Wyk wat in Beeld verskyn het op 6 Januarie 2012



Dit is ’n skraler, meer bruin gebrande Derick Kuün wat oor die grasperk langs die 70 jaar oue plaasopstal van Rietfontein, die familieplaas, aangestryk kom as die taai Blou Bul-flank wat ondersteuners van 2011 se Curriebeker sal onthou.

Hy dra ook nie meer die ligblou trui met die rooi madeliefie op die bors nie, maar ’n kakiehemp, jean en stewels.

Kort ná sy 100ste wedstryd en op 27-jarige ouderdom het hy die land verras deur sy rugbystewels finaal op te hang om voltyds te boer.

Derick en sy vrou, die blonde Lorinda, en die twee miniatuur-schnauzers het vir goed sak en pak plaas toe getrek. 

Lorinda is ’n argitek en ry steeds twee keer per week Pretoria toe om te gaan werk.

Niemand kon hom van sy plan laat afsien nie. Die Blou Bulle het ’n steunpilaar verloor wat die span reeds drie Superreeks-titels help verower het en in net meer as 30 wedstryde die Ligbloues as kaptein gelei het. 

Die Franse klubs Toulon en Tou­louse moes ten spyte van stewige aanbiedings stert tussen die bene terugdraai. Nog minder kon die rugbyklubs van Balfour en Nigel daarin slaag om hom om te praat. 

“Want die plaas het my nou nodig,” het hy eers ontwykend gesê en in die bakkie geklim om ons die mielielande te gaan wys. 

In plant- en strooptyd begin die dag op Rietfontein al voor hanekraai. ’n Groot verandering van die 09:00 tot 11:00- en 15:00 tot 17:00- Blou Bul-oefentye. 

“Ek het ’n geleentheid gekry om braaikuikens te teel en ’n groeier te wees vir Afgri. Die omgewingsimpakstudie is goedgekeur en die kontrak is geteken. As die finansiering uitwerk, kan ek ses hokke, wat 50 000 kuikens elk hou, teen April of Mei begin bou.” 

Dít is die jongste Kuün se eerste projek op die plaas. Naas die voltooiing van sy huis ’n hanetree van die opstal af is die winsgewende verskaffing van braaikuikens die groot doelwit van sy jaar. 

Die Kuüns boer al byna ’n eeu lank op Rietfontein, ’n plaas wat oor 4 000 ha beslaan, so 10 km van Balfour in Mpumalanga.

Derick is die vierde geslag Gabriël Willem Frederick Kuün. Daarvan getuig die waterverfskildery van die vier manlike Kuüns met die doopseel in die TV-kamer.

Sonbesies skreeu luidkeels toe ons op ’n heuwel ’n ent van die wit plaasopstal, in die Kaaps-Hollandse styl gebou, stop. 

Van hier kan mens die spruit aan die voet van die heuwel sien, die mielies wuif in die wind en weggesteek agter die bome, tussen twee damme, is Derick en Lorinda se huis.

Dit was sy oupagrootjie se huis. Dit is byna heeltemal herbou en net die oorspronklike houtvloere het behoue gebly. 

Hoewel daar nog afrondingswerk aan die huis gedoen word, trek die paartjie vandeesweek in. Die huis is ontwerp vir kuier en gaan een van die dae groot huispartytjies huisves.

In November het hulle stikstof op die mielielande toegedien, “jy kan amper sê dis soos om die mielies kreatien te gee”, vertel hy tussendeur.

Nog nie tevrede met die halwe antwoord nie, besluit ek om hom weer gepols oor sy besluit om plaas toe te trek. 

“Ek laaik maar die familie, en so,” pypkan hy my. “Met die rugby het ek reeds die wêreld gesien.” Ontwykend en privaat, dié Kuün.

Die rugby mis hy nie eintlik soveel as wat hy sy vriende mis nie, vertel Derick. 

“Wanneer ’n mens so baie saam deurleef, raak jy na aan mekaar. 

Vir die Kuüns was rugby nog altyd net ’n verposing op die kwartlyn en die plaas die eintlike doellyn. Derick sr. het self ook as slot en agsteman vir die destydse Noord-Transvaal uitgedraf voordat hy sy ander passie kom uitleef het. 

Derick vee met sy handpalm oor die lowergroen mielieblare wat ná die vorige naweek se goeie reën reeds skouerhoogte staan en skud sy kop. 

“Jis, ek dog ek is klaar met hierdie goed,” beduie hy na die fotograaf wat met die kamera na hom mik en glimlag.

“En hier is ek wragtig weer.” Hy wag egter ewe gelate en geduldig dat die foto’s geneem word. “Die media was so lank deel van my lewe.”

Dr. Ashley Evert, voormalige Blou Bul-afrigter, staan uit as die man wat Derick die fyner besonderhede van rugby, menswees en manwees geleer het. 

Hy was in baie opsigte ’n vader­figuur vir die jong Blou Bul sedert sy 19de jaar. 

“Ek het aanklank by hom gevind en hy is werklik ’n vriend ... mens kan hom ’n vriénd noem.”

’n Mens kry die idee dat Derick baie kennisse het, maar dat hy die geliefdes wat saam met hom in die lewensskrum sak versigtig kies. 

“Ashley het my geleer hoe om kaptein te wees, hoe om teenoor ander mense op te tree, watter waardes belangrik is en hoe om met die media te werk.

“Weet jy watter krisis dit vir die ondersteuners is as die Blou Bulle ’n wedstryd verloor? ’n Mens sou dink die lewe sal nooit weer goed wees nie.

“Hy het my baie van die lewe geleer,” sê hy oor Evert.

Die lewe kan jou so maklik ’n lelike, selfs gevaarlike hoogvat toedien, mymer hy. Almal kry soms bloedneus. 

“Veral as jy so jónk is. Ek dink dis partykeer oorweldigend vir jong spelers, veral as hulle nie geswot het nie en in so ’n klein boksie vasgevang word,” beduie hy met sy vuiste ’n klein gaatjie. 

“Daar is ’n fyn lyn tussen om reg te wees en die pad byster te raak. En dit gebeur maklik. Jy het nog nooit gekuier nie en ewe skielik laaik almal jou. Jy speel goeie rugby. Al die meisies laaik jou. Al die media laaik jou. 

Dit is soms waar die ouens in die moeilikheid kom en sukkel. Ons almal het al in daai gat getrap. Party kom daaruit en ander kom net nie daaruit nie. Dit is maar rof.” 

Net ’n oomblik glip die waaksaamheid en dan gesels ons weer oor die boerdery.

Onder Derick en sy pa se toesig loop daar duisend Bovelderbeeste op Rietfontein. 

Derick het ’n BCom-graad in ondernemingsbestuur aan die Universiteit van Pretoria verwerf en sy pa lei hom nou op in die fyner kunsies van boerdery. 

Want ’n landbougraad is sommer tydmors, aldus Derick sr.

Die kudde is deel van die elite-Bovelder-beesstudiegroep. Hy vertel trots dat die kalfpersentasie tussen 91% en 94% is. 

Die nasionale gemiddelde kalfpersentasie van kommersiële kuddes lê maar by 61%. 

“Dít is mos ’n boerdery. As ’n mens net beeste het wat daar rondloop ... dis nie ’n boerdery nie. Ons boer baie intensief met die beeste. 

Met die mielies, sojabone en varke natuurlik ook. Ons streef na uitnemendheid en diversiteit, want dit is die boere wat stagneer wat uiteindelik verdwyn. 

As jy uitbou en groter word, beweeg jy vorentoe.”

Voordat ons op Rietfontein ry, vra ek na die fiets wat teen die garagemuur lê.

“Ek is besig om te oefen vir April se Ysterman-kompetisie, waarin jy 42 km hardloop, 180 km fietsry en 3,8 km swem. Teen einde Januarie sal ek kyk of ek reg is daarvoor. 

Nou is ek een van die gewone ouens. Ek is nou op my eie en het nie meer ’n spanmaat nie, ek is op my eie mis­sion.”



http://www.beeld.com/In-Diepte/Nuus/Weg-van-Bulle-na-beeste-20120106

No comments:

Post a Comment