Wednesday, 14 December 2011

Die Sondagverkragter wys sy gesig


Die was my gunsteling foto. Die foto is geneem toe Mnr. Steyn oppad was uit die hof uit.


Die boonste en onderste foto is geneem terwyl Mnr. Steyn die hof binnegekom het en vir die eerste keer sy gesig aan die publiek gewys het.



Die foto bo en onder: Mnr. Steyn staan en luister na die regsverteenwoordigers en die Landdros



Me. Shireen De Waal, skree " Jy kan maar vir my kyk. Dit was my dogter!!" vir Mnr. Johannes Jacobus Steyn terwyl hy afstap na die selle toe. ,


Mnr. Johannes Jacobus Steyn die Sondagverkragter. 


Hierdie is my weergawe van wat in die hof gebeur het die oogend van die saak.

Die dag waarvoor almal gewag het breek toe uiteindelik aan, 13 Desember 2012, die Sondagverkragter se tweede verskyning. Almal staan in afwagting buite die hof terwyl ons wag vir die sekuriteit om ons in te laat.

Almal spekuleer oor gaan hy sy gesig toe hou of gaan hy nie, want die "monsters" wil almal mos sien!!! Dis die siek fasinasie wat meeste mense het, In my opinie het Mnr. Steyn se baard nie goed bygedra tot watse persepsie van homself hy ookal wou wys nie, nie dat ek dink hy omgee wat die wêreld op die oomblik van hom dink nie. Dis maar een ding 'n baard laat jou altyd bietjie dodge lyk, vra my maar ek weet.

In elk geval, almal (fotograwe en kamera spanne) staan toe in die hof en wag in spanning vir die paar sekondes wat mens kry om iemand in die hof af te neem. Daar is regtig net 'n paar sekondes partykeer dalk 'n minuut of twee. Al wanneer die fotograwe kan fotos neem is net voor die Landdros instap en sodra hy weer uit die hof stap. Die probleem by ons het ingekom dat die Landdros eers 'n ander saak geroep het voor Mnr. Steyn se saak, en dit veroorsaak het dat hy sodoende die hele tyd in die hof was, so ons mag tegnies nie fotos geneem het nie. Ons almal het toe maar vir mekaar gekyk en ons skouers opgetrek, maar nou ja, hoe stop mens 'n fotograaf fotos neem. Die oomblik toe Mnr. Steyn die trappe van die selle af opkom toe begin ons maar fotos neem, teen die reels en al. Darem nie 10 frames 'n sekonde nie, maar net so elke nou en dan ene, sodat die Landdros dit nie hoor nie. Ek kan ook maar bly wees dat ek die fotos geneem het, want die oombklik toe Landdros uit die hof uit is het Mnr. Steyn teen die spoed van wit lig spore gemaak uit die hof uit en af na die selle toe.

Dis nou maar hoe ons lewens gaan "hurry up and wait". Soms staan ons vir ure rond net om 'n paar sekondes te hê om 'n foto te neem.





Die res van die storie hieronder is die Artikel wat in Beeld verskyn het op die 14de Desember wat deur Janice Keogh geskryf is.

‘Jy kan maar vir my kyk. Dit was my dogter.”

So het me. Shireen de Waal, ma van die vermoorde Louise de Waal (16), gister haar dogter se vermeende verkragter en moordenaar toegesnou toe hy na die selle onder die Krugersdorpse streekhof gelei is.

Dit was gister die eerste keer dat De Waal die gesig van mnr. Johannes Jacobus Steyn (35), die beweerde Sondag­verkragter, gesien het.

Sy, Louise se suster, me. Jessica du Toit, haar swaer, mnr. David Agsteribbe, en ’n familievriend het heel voor in die stampvol hofsaal gesit.

’n Doodse stilte het op De Waal se woorde aan Steyn gevolg, waarna mnr. Vic de Beer, ’n inwoner van Florida, die woord “vark” hard geskree het.

“Hy sit daar soos ’n meneer. Hy dink hy’s ’n donderse hero,” het ’n ontstoke De Beer buite die hof gesê.

Louise is vier dae voor haar 17de verjaardag op pad na die Hoërskool Die Burger in Roodepoort ontvoer.

Haar verkoolde lyk is die volgende dag op ’n plaas in die Magaliesburg-distrik gekry.

Steyn het tydens sy vorige hofverskyning twee maande gelede sy gesig vir fotograwe en die publiek toegehou, maar gister het hy in ’n netjiese ligte hemp en kakiebroek die landdros stip aangekyk.

Steyn staan tereg op 32 “ernstige” aanklagte, waaronder die moord op en verkragting van Louise. 

Benewens moord en verskeie aanklagte van verkragting staan Steyn ook tereg op aanklagte van seksuele aanranding en menseroof.

Al sy beweerde slagoffers was jonger as 18.

Een van die twee aanklaers in die saak, adv. Carina Coetzee, het landdros Keith Page gevra om die verrigtinge tot Februarie uit te stel omdat ’n verslag van die forensiese laboratorium eers in Januarie beskikbaar sal wees.

Dit is ook nog nie duidelik wanneer ’n toksikologie-verslag, wat nodig is om die lykskouingsverslag te voltooi, beskikbaar sal wees nie.

Die staat en Steyn se regsverteenwoordiger, mnr. Jack van Heerden, het ingestem dat al die aanklagte teen hom gesentraliseer moet word.

Die polisie vermoed hy word verbind met ontvoerings en verkragtings in Vanderbijlpark, Krugersdorp, Potchefstroom, Carletonville, Pretoria en Rustenburg. 

Me. Lee Lerm, ’n traumaberader wat De Waal in die hof ondersteun het, het ná die verrigtinge gesê dit gaan nie goed met haar nie.

“Sy het haar dogter verloor, geen regstelsel gaan haar terugbring nie.”



http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Jy-kan-maar-vir-my-kyk-20111213

No comments:

Post a Comment