Nicky lei ons by ’n grondpad af, sy BlackBerry aan sy hand vasgegom. Die rooi liggie flikker aanhoudend. Hy lees sy boodskappe en giggel.
Dan wys hy my ’n foto van hom met grimering aan. “My ouers aanvaar my nes ek is,” sê hy trots. Toe hy onlangs ’n rokkie gedra en foto’s geneem het, het sy ma vreeslik met hom geraas omdat dit koud was en sy bang was hy word siek.
Angie Engelbrecht (21) staan voor hul huisie, die naaste een aan die oorspronklike park. “Dit sal lekkerder wees om in ’n huis te bly, want dan het jy electricity en warm water en jy hoef nie heeltyd te worrie oor jou kinders wat weghardloop nie,” sê sy.
Haar oudste seun, Marthinus (3), staan by sy pa, Willem (Space) Sanders (23). Met ’n stukkie beskuit in die hand wat hy teen die grond kap om krummels te maak, kyk Marthinus kort-kort op na sy pa.
Space kap groente op vir ’n potjie. Hy doen piece jobs, sê hy. Angie pas kinders op. Sy het nie skool klaargemaak nie.
Verder af na die dam se kant toe, waar die meeste van die jonger paartjies woon, staan Cecilia (23) en Hannes (30) Niemand by ’n houthuisie.
Hul vierjarige seun, Brian, sit agter die stuurwiel van Hannes se wit Nissan-bakkie, waarop ’n sandput-skulp omgekeer is.
“Wroem, wroem, wroem!” skree Brian en hy probeer die stuurwiel draai. Sy koppie steek skaars bo die venster uit.
Hannes het nie werk nie. “Ek het siek geword, maar is weer reg. So, ek soek maar vir werk.” Hannes vryf deur sy hare met hande wat plek-plek swart is van die ghries.
“Hoe bly ons warm? Ons hou mekaar warm,” sê Hannes. Hy kyk na Cecilia, hul dogter Samantha (3) op haar heup. “Ja, dit was love at first sight.”
Ons stap verder.
Teen ’n muur sit twee jong mans. Die een het ’n kitaar in die hand, ’n sigaret in die mond. Hulle lag.
“Hulle hou van wierook,” sê Nicky. Wierook? “Ja, man,” sê hy en neem sy duim en sy wysvinger na sy mond, sy oë op skrefies getrek. Hy neem ’n denkbeeldige trek. “Wierook, want dit ruik so lekker.”
Dit begin nou donker word. In die verte ruk ’n kragopwekker ná twee of drie probeerslae aan die gang. In die middel van die park, voor ’n klein grasdakhuisie met ’n goudkleurige “Merry Christmas”-banier tussen twee pilare, speel ’n groep seuns sokker. Later vertel Hugo my die “Merry Christmas”-banier herinner hom aan een jaar toe ’n ou man op Kersdag deur sy kinders by die park afgelaai is. “Dit was die hartseerste dag. Hulle kon darem een dag gewag het.”
Die oudste seun van die groep wat sokker speel, skop die bal by ’n woonwa verby. Hy stuur een van die jonger seuns om dit te gaan haal.
“Awê rot,” skree hulle vir mekaar. Dis nou die in-woord, sê Nicky.
“Eers was dit net awê, nou is dit awê rot. Hulle bedoel dit nie lelik nie, dit klink seker maar vir hulle cool.”
Die park word donker. Die kragopwekker dreun. Die honde het opgehou blaf.
’n Paar jaar gelede het ’n groot deel van die kamp afgebrand. ’n Kers het in die nag omgeval.
Teen 22:00 is die meeste mense in die park aan die slaap. Daar is nie ’n geluid nie. Die blare van die reuse-bloekombome tussen die tente, houthuisies en woonwaens ritsel in die wind.
Dieselfde groep seuns wat vroeër sokker gespeel het, kom by Irene en Hugo se stoep onder ’n lig bymekaar. Een het ’n opgerolde plakkaat in die hand. Hy haal die rekkie af, en rol dit oop.
“By Pick n Pay gekoop.”
Dit is ’n plakkaat van ’n kar. ’n Porsche, sê die seun.
Een van die jonger seuns, ’n stewige mannetjie wat hoop om eendag vir die Goue Leeus uit te draf, begin met een van die ouer seuns stoei. Hulle skrum en probeer mekaar om die nek beetkry.
Die ouer seun is lank en maer, seker so 16 jaar oud. Hy probeer die jonger een agternasit. Dan stop hy, haal diep asem. Uit sy sak kom ’n Dullahs te voorskyn. Met sy hande op sy knieë sê hy: “Moenie begin rook nie, manne. Dit maak jou stadig.”
Die kragopwekker word afgeskakel. Die sterre is helder, want Kroningspark lê in ’n kommetjie waar die res van Krugersdorp se ligte nie sigbaar is nie. Afgesien van die sterre, die sekelmaan en die buitelyne van die bloekoms, kan ’n mens niks sien nie.
Pap vir 40 kinders
Donkeroggend is ons terug wanneer die kragopwekker aangeskakel word. Irene maak soggens pap vir al Kroningspark se 40 kinders voordat hulle skool toe gaan.
Iemand klop aan haar kombuisdeur. ’n Jong meisie met goue oorbelletjies staan met ’n bakkie in die hand. Dit is 6:00 en sy het haar skoolklere aan, tas op haar rug. Irene skep vir haar pap in en gooi melk en suiker daaroor. “Dankie, tannie,” sê sy.
Buite rev ’n kar. Christo van Staden parkeer sy blou Opel langs Irene se huis.
“Tommy, Tooo-my!” skree hy. Dan klim Christo uit.
“Ons moet gaan werk, ek hoop Tommy het die kar gehoor,” sê hy terwyl hy staar na ’n kar wat op bakstene staan. Dit is Nicky se ouer broer, Martin, se kar. Hy doen die enjin oor.
“Dis hartseer as ’n man se kar so in die lug staan,” terg Christo hom.
“Dis hartseer as hy glad nie meer daar f****n staan nie,” kap Martin terug.
Die kinders stap hek toe om die munisipale bus te haal.
Een van Irene se kleinkinders, Cherise Breedt (5), dra ’n pienk jassie en het ’n pienk rugsakkie op haar rug. Sy soek haar huiswerkboek en kou aan haar kragie. “Moenie jou klere eet nie,” sê Irene vir haar.
“Waar is jou huiswerkboek?” vra Irene. “In die caravan, ouma” sê Cherise.
Dis vandag Irene se jongste seun, Raymond, se verjaardag. Hy word 13. Irene hoop om later vandag vir hom ’n koek te bak.
“Ek bak al my kinders se koeke. Ek het al ’n trok gebak en ’n Barbie-koek met pienk versiersuiker vir die rok. Die foto’s is almal op die pee-cee.”
Die res van Kroningspark word wakker. Die vure word weer aangesteek. Sommige mense kom met koppies om koffie en tee by Irene te kry.
Die son is nou uit, maar dis kouer as die vorige aand.
Socks Khumalo (26) staan teen die deur van sy houthuisie naby die wal van die dam. Hy is die enigste swart inwoner van Kroningspark. Hy verkies dit hier.
“Ek het al in townships gebly, maar ek hou nie van eKhasi-style nie. Almal is vriendelik en niemand gee my moeilikheid nie . . . Niemand gee mekaar hier moeilikheid nie.”