Friday 26 October 2012

Cianlinè kry amper haar glimlag terug.

Cianlinè die dag voor haar operasie

Cianlinè saam haar ma Monica




Storie deur Pauli van Wyk wat in Beeld verskyn het 

’n Vyfjarige meisietjie het gister in ’n operasie van 14 uur die eerste stap geneem om haar droom van ’n “mooi glimlag” te kan verwesenlik.

Cianliné was een jaar oud toe ’n groot, kis-soort TV met ’n skermgrootte van omtrent 73 cm op haar geval het, het Monica van der Westhuizen, haar ma, gister vertel.

“Ek het net ’n oomblik weggekyk, ’n sagte plofgeluid gehoor en toe lê my kind onder die TV.”

Toe sy haar kind in haar arms hou, was Cianliné se lyfie pap. Daar was geen hartklop nie en sy het nie asem­gehaal nie.

“Die dokter het na my toe gekom en gesê sy gaan nie die aand maak nie. Sy het rêrig rof gelyk. Ons het aanhou bid.”

Die diagnose was ernstige skedelbreuk met bloeding en drukking op die brein.

Cianliné het wonderbaarlik herstel, maar die linkerkant van haar lyfie was verlam. 

Dokters het hardop gewonder of sy ooit sal kan loop en reg praat. 

“Nou is sy ’n regte woelwater en praat sonder ophou. Al wat sy oorgehou het, is haar balans wat soms effens wankelrig is en haar verlamde gesiggie.”

Dít en die droom om te kan glimlag. Wanneer die gesin foto’s geneem het, het Cianliné haar lam wangetjie met ’n vingertjie opgedruk.

Soms het sy voor die spieël gaan staan en haar mond met haar hande reguit getrek.

“Hoekom?” wou haar ma weet.

“Want ek wil ook baie graag ’n mooi glimlag hê,” het sy geantwoord.

Prof. George Psaras, medestigter en mediese hoof van die Smile-stigting, het gister in ’n dag lange operasie, wat ongeveer R200 000 sou kos, begin om Cianliné se glimlag terug te bring.

In dié prosedure word ’n spier en senuwee uit haar binne-bobeen geoes en in die plek van die 18 gesigspiere aan haar linkerkant ingeplant.

Dit is deel van ’n reeks plastiese, rekonstruktiewe en re­animasie-operasies wat die Smile-stigting in die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg uitvoer.

Volgens Van der Westhuizen het die gesin die “slapies afgetel” tot dié groot gebeurtenis.

“Ouers moet uit ons hartseer leer. Maak vas jul TV’s. Dit sal jou en jou kind baie moeite, hartseer en trauma spaar. ’n Ongeluk gebeur bitter maklik,” het Van der Westhuizen gesê.




Chris Rossouw besoek vir Cianlinè

Chris besoek vir Cianlinè



Storie deur Pauli van Wyk wat in Beeld verskyn het saam met video deur Liezel Els.

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/Video-Kyk-net-na-my-nuwe-glimlag-20121025

Die vyfjarige meisietjie wat dié week onder die mes was, het gister aandagtig gekyk na die soort glimlag wat sy hoop om gou te hê.

Chris Rossouw (7) het ’n jaar gelede reanimasie-chirurgie soortgelyk aan Cianliné se operasie vandeesweek ontvang en glimlag nou breed. 

Prof. George Psaras, plastiese chirurg en medestigter van die Smile-stigting, het ’n ingewikkelde operasie op albei gedoen waarin hy ’n spier uit die bobeen geoes en in ’n verlamde wang ingeplant het.

Chris het Cianliné gister in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg besoek waar sy aansterk ná haar dag lange operasie.

“Kyk, Mamma, al het ek pyn, glimlag ek nog steeds,” het sy kort ná die operasie aan haar ma, Monica van der Westhuizen, gesê, waarna dié in trane uitgebars het.

Toe sy ’n jaar oud was, het Cianliné ’n groot, swaar TV-stel op haar omgetrek.

Sy het bo verwagting goed herstel van die ernstige skedelbreuk en bloeding op die brein, maar die linkerkant van haar gesiggie is sedertdien verlam.

Die spier uit haar been sal uiteindelik die funksies van die 18 gesigspiere moet oorneem en sal sorg dat Cianliné moontlik teen Kersfees vir die eerste keer in vier jaar kan glimlag.


Chris se operasie was ’n jaar gelede. 

Hy was twee toe sy pa, Attie, met sy bakkie agteruit gery en Chris per ongeluk daaronder beland het. Die regterkant van Chris se gesig was verlam en sy gehoor en sig aangetas.

Dié woelwater het volkome herstel en was gister baie opgewonde oor sy glimlag en het kwetterend met Cianliné gesels. 

“Vertel my, watter bakkie het jou omgery?” het hy gevra.

Monday 22 October 2012

Tannie Joey Botha jaag om Kyalami.

Tanie Joey Botha lag saam haar kleinseun se vrou Vanessa Botha na sy om Kyalami gejaag het.


Tanie Joey waai vir die kameras voor sy wegtrek vir haar rit om die baan.


Storie wat in Beeld verskyn het deur Pauli van Wyk.

Ter viering van haar 90ste verjaardag het Ouma Joey Botha die motorbande teen 160 km/h om Kyalami se renbaan laat fluit.

Sy was gister vreesloos opgewonde en het flink in die wit VW Golf GTI 2.0L Turbo geklim. 

Sy kon net-net oor die stuurwiel sien.

Ruan Venter, instrukteur van die gevorderde bestuursles, het later met groot oë vertel hy het twee keer die handrem opgetrek. “Ons het byna van die baan afgejaag, sy stop net nie!”

Ouma Joey het gegiggel en gesê: “Ruan wil net heeltyd hê ek moet stadiger ry. Ek hou mos nie van briek nie.” 

Om in ’n vinnige motor te ry op die renbaan wat sy al sedert 21-jarige ouderdom besoek, was glo nog altyd ’n droom.

Die familie het besluit om dié droom te verwesenlik voordat ouma 90 jare op die klok het.

Sy was maar nog altyd ’n jaagduiwel. Vinnig van geaardheid met ’n lewendige belangstelling in vurige motors. 

“Net nadat ek my rybewys gekry het, het ek ’n Auto Union gery. Die dag toe ek hom verkoop, was die voorste bumper die enigste oorspronklike paneel op die motor,” het sy gesê.

“Maar dit was nie dat ek in ander mense ingery het nie. Dis hulle wat in my ingery het!” 



Gaan kyk ook die video deur Debree Kluge op Beeld se webtuiste.

http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/VIDEO-Vinnige-ouma-laat-waai-op-Kyalami-20121019

Thursday 11 October 2012

Talking to the "Monster"



The above three photographs were taken just after Jaco Steyn was sentenced. It was in the holding cells underneath the court house. 

How we got the interview

Steyn called me one day in court when he was escorted out and told me that he would like to give us an exclusive interview after the court case was done. So the day came when he was sentenced and we went down stairs to the holding cells after he gave a brief statement to the rest of the media in court. This is where we got a brief incite into the darkness of one mans mind. We only had 20 minutes to do the interview and get photographs so we were very limited on what we could do. But we got some info out of him and I managed to get some photographs, i would have liked to do some more, but on this occasion the s story had preference and I did manage to ask some questions myself. Because I have been covering the case so long there were some things I wanted to know.

The article that was published in Beeld 

Storie deur Pauli van Wyk vir Beeld 21/09/12

Op 15-jarige ouderdom het Jaco Steyn, die Sondagverkragter, vir die eerste keer ’n meisie verkrag.

Hy het dít Woensdag in die aanhoudingselle van die Thokoza-hofgebou onthul terwyl hy gewag het om na die tronk oorgeplaas te word vir sy vonnis van vyf keer lewenslank en ’n bykomende 170 jaar.

Dis die eerste keer dat dié verkragting aan die lig kom. 

Dit is nie in sy verhoor gemeld nie.

Op ’n vraag of al sy verkragtings op die lappe is, het Steyn aan Beeld gesê: “Daar is gevalle, many moons terug, waarvan hulle nie die dockets kon kry nie.” Hy wou nie verder daaroor uitwei nie.

“Ek het op ’n baie jong ouderdom, ek was omtrent 12, omgang gehad. ’n Sielkundige het later jare vir my gesê ek het my seksuele piek in dié tyd bereik. Dit was sy rede waarom ek daardie ouderdom meisies verkies.”

Franco Visser, ’n kliniese sielkundige, het ter strafverswaring getuig Steyn is onrehabiliteerbaar, met baie swak beheer oor sy drange en kan sy misdadige gewoontes nie stop nie. 

Ao. Peet du Toit, ondersoekbeampte in die saak, het Steyn op 13 Oktober 2011, ’n dag ná die moord op Louise de Waal, oorreed om hom in Margate aan die polisie oor te gee.

Visser het gesê as Du Toit Steyn nie aangekeer het nie, sou hy met sy misdade voortgegaan het. “Die kans dat Steyn in die toekoms seksueel gewelddadige misdade sal pleeg, is hoog.”

Steyn is ’n psigopaat, ’n gewoonte-leuenaar, manipulerend, voel min of geen berou vir die slagoffers van sy misdade nie en het ’n sterk behoefte aan beheer en mag, het Visser getuig.

“Steyn sien homself as die eintlike slagoffer... Hy hou daarvan om die blaam na iemand anders te verskuif sodat hulle verantwoordelikheid vir sy eie gedagtes en gedrag aanvaar.”

Steyn het net ná sy vonnisoplegging aan joernaliste gesê hy kry swaarder as sy slagoffers.

Hy het ook erken dat hy ­Louise wel verkrag het.

Regter Sita Kolbe het hom vrygespreek op dié aanklag weens ’n gebrek aan bewyse.

In die aanhoudingselle het hy gesê: “Ek weet nie of ek weer sou vermoor het nie, maar ek sou waarskynlik nog een of twee ontvoer het.

“Ek het nie lekker gevoel op die dae wat ek meisies ontvoer en verkrag het nie. Elke aand ná die tyd het ek op my knieë gegaan en gesê: ‘Here, stop my, ek kan nie meer nie.’

“Dis iets wat jy nie wil doen nie, maar daar is hierdie dryfkrag in jou wat jou dryf om dit te doen. Dis soos ’n ou wat nie weer ’n fix wil vat nie, maar voor jy jou kom kry, gaan doen jy dit weer. Dis ’n verslawing.”

Hy het die vinger telkens na sy vervreemde vrou en Du Toit gewys.

“Weet jy hoe dit voel as die vrou vir wie jy so lief is, jou wegstoot en sê sy wil nie met my seks hê nie?” het hy snikkend gevra.

“Dink jy nie hierdie het aanleiding gegee dat ek sulke dade doen nie? Ek kry nie bevrediging by die huis nie.”

Visser het getuig Steyn voel so wrokkig teenoor sy eksvrou dat hy haar waarskynlik leed sal aandoen. 

Oor Du Toit het Steyn niks goeds te sê gehad nie. 

Hy het die polisieman daarvan beskuldig dat hy die brief aan ’n vriendin, waarin Steyn die ontvoering, verkragting en moord op Louise beskryf, op ’n onwettige wyse in die hande gekry het.

Adv. Anton Lerm, vir Steyn, het gedurende die vonnisverrigtinge beswaar aangeteken teen die brief wat ter strafverswaring gebruik is, maar het sy beswaar later teruggetrek en die brief is as getuienis aanvaar.

Steyn is op een klag van moord, nege klagte van verkragting en tien klagte van ontvoering skuldig bevind.


http://www.beeld.com/Suid-Afrika/Nuus/VIDEO-In-n-monster-se-kop-20120921